Nóg honde vergiftig in Pretoria, hierdie keer in die weste
"Die meeste gevalle gebeur na 01:00 in die oggend en twee verskillende gifstowwe word gebruik."
Sestien honde is al sedert die begin van die maand dood aan vergiftiging in die weste van Pretoria.
Op moedverloor se vlakte, het inwoners nou sake in hulle eie hande geneem.
Een van die inwoners, Tanita Venter sê hulle stap elke oggend en aand deur die strate opsoek na ‘merkers’ wat deur kriminele gebruik word voordat hulle op ’n eiendom toe slaan.
Venter sê daar is twee spesifieke huise waar hulle gereeld ‘merkers’ moet verwyder.
Sy sê hierdie merkers sluit in ’n geverfte kruis op die grasperk, rooi lint op straatligpale, klippe wat langs mekaar gepak word of groot doppies wat iewers op die eiendom geplaas word.
LEES OOK:
https://rekordmoot.co.za/105670/wenke-teen-vergiftiging/
Hulle het ook ’n WhatsApp-groep gestig om mekaar op hoogte te hou met verwikkelinge.
Sy sê drie verskillende sekuriteitsmaatskappye help hulle ook om die strate te monitor.
Venter sê die vergiftiging vind meestal plaas by Theo Slabbertlaan, Attiestraat, Commercialstraat en Louisestraat.
Sy sê gewoonlik as daar ’n hond vergiftig word, is dit meeste van die tyd by ’n huis waar daar ’n motorfiets is.
“Die laaste ruk het dit al só erg geraak dat hulle net die honde vergiftig en niks steel nie,” sê sy.
“Die meeste gevalle gebeur na 01:00 in die oggend en twee verskillende gifstowwe word gebruik. Die mees algemeenste een wat ons in Booysens ervaar, is die two-step-gif.”
“Vergiftiging is ’n gemene manier om honde dood te maak – hulle ly vreeslik,” sê sy.
Venter vra dat inwoners by hulle aansluit in ’n poging om die vergiftiging van honde te stop.
GPF-voorsitter, Esmé Nell moedig inwoners aan om hulle honde veilig te bewaar en om motorfietse uit die oog te bêre.
DA-raadslid van die wyk, Elma Nel sê dit is duidelik dat daar ’n vlaag van dierevergiftiging in die woongebied is.
“Dit is vir my bitter hartseer dat misdadigers nie eens respek vir die diere het nie. Hulle dink om van die dier ontslae te raak, gaan die inbraak makliker maak.”
Sy sê slagoffers moet dierevergiftigings dadelik by die polisie of GPF aanmeld wanneer dit gebeur.
LEES OOK:
https://rekordmoot.co.za/114279/hondevergiftiging-in-die-weste-vat-vlam/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
