VIDEO: Plakkers op leë erwe grief Sinoville-inwoners
“Daar word gedrink en tot in die vroeë oggendure partytjie gehou. Hulle slinger gereeld leë drankbottels oor die muur in ons erwe in en urineer teen die mure.”
Vullis en leeglêers in oop velde en erwe bly ’n konstante kopseer vir inwoners in die noorde van Pretoria.
Sinoville-inwoners het die week weer gal gebraak oor onwettige plakkers in die omgewing.
Inwoner Faan Rossouw sê rusversteuring, alkohol-misbruik en kriminele misdrywe is maar net ’n paar van die probleme wat inwoners in die gesig staar.
“Só gaan dit al vir jare voort. Net sodra die een groep plakkers verwyder word, kom daar nog aan wat hier kom leeglê en moeilikheid maak,” sê hy.
Rekord het al in 2016 berig oor die oop veld op die hoek van Blydestraat en Sefako Makgathorylaan (Zambezi) – wat, volgens Rossouw, ’n onheilsnes geword het.
“Daar word gedrink en tot in die vroeë oggendure partytjie gehou. Hulle slinger gereeld leë drankbottels oor die muur in ons erwe in en urineer teen die mure,” vertel Rossouw.
KYK HIER:
Nog ’n leë erf op die hoek van Marija- en Mircastraat blyk nét so ’n groot probleem te wees.
’n Inwoner van Soetdoring-aftreeoord, Hannes Vorster, sê oop vure in die winter is ’n ernstige veiligheidsrisiko.
“Die onwettig plakkers is ’n groot bekommernis vir ons inwoners en huiseienaars,” sê Vorster.
“Word daar nie dringend hieraan aandag gegee nie, kan dit ’n negatiewe impak hê op eiendomswaarde en lei tot misdade.”
Annlin-Wes gemeenskap se buurtwagstigter Ockert de Bruyn sê tot en met 46 plakkers is al op dié leë erf opgemerk.
“Polisie word gereeld ontbied om plakkers hier te verwyder,” sê De Bruyn.
Wykraadslid Lenise Breytenbach sê eienaars van leë erwe moet verantwoordelikheid aanvaar en hul eiendomme behoorlik omhein.


Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
