Misdaadsvergadering beplan vir ‘rooi gebiede’ in die weste
“Ons sal drasties iets moet doen anders gaan ons gebied tot ’n rampsgebied verklaar word.”
Inwoners van die weste van Pretoria kan eerskomende Saterdag ’n GPF-vergadering bywoon, waartydens misdaad in dié omgewing bespreek sal word.
Dié vergadering sal 15:00 by die Nederduitsch Hervormde Kerk Wesmoot plaasvind.
GPF-lid, Ria Venter sê die vergadering is vir plaaslike inwoners wat in die sogenaamde “rooi gebied” (oftewel hoë risiko gebied) woon.
Die gebied strek vanaf Bremerstraat tot by die Maham-gronde, sê sy.
“Ons gaan poog om die gemeenskap oor te haal om óf vrywillige 24/7-patrolering te verrig, óf dat elkeen inklap om dit te bewerkstellig deur ’n werksgeleentheid te skep,” sê Venter.
Nog ’n voorstel wat gemaak is, is dat sekuriteitspale by al die ingange opgerig sal word en ’n sekuriteitswag aan te stel.
Venter sê die Gamorrah informele nedersetting hou verrykende gevolge in vir die hele Hercules-gebied.
Sy sê afval wat besoedeling meebring, oorbevolking en reeds baie besige paaie, vermindering van eiendomswaarde, misdaadsyfers wat daagliks styg en ’n gesondheidsrisiko is maar net ’n paar van die toenemende krississe in dié gebied.
“Die vleiland by Gamorrah is die bron van waar verskeie boorgate in die area vloei,” sê sy.
“Die informele nedersetters stort reeds allerhande dinge in die veld, soveel so dat ons nou selfs vrugtevlieë het.”
Sy sê alhoewel misdaad drasties besig is om te styg in hierdie gebiede, is daar ander kommerwekkende probleme wat al reeds hul tol eis.
“Ons sal drasties iets moet doen anders gaan ons gebied tot ’n rampsgebied verklaar word,” sê sy.
LEES OOK:
https://rekordmoot.co.za/121709/nog-honde-vergiftig-in-pretoria-hierdie-keer-in-die-weste/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
