Noord-vrou onthou haar angs oor polisie-vuurwapen
“Ek was ingehok tussen twee voertuie toe ’n man sy venster oopdraai en ’n vuurwapen op my rig.”
’n Jong vrou van Pretoria sê sy is erg getraumatiseer nadat die polisie ’n vuurwapen op haar gerig het naby Beaufort-Wes in Wes-Kaapland
Die 21-jarige vrou in die noorde van Pretoria sê sy is Dinsdagmiddag gedreig toe sy alleen in haar voertuig op pad Kaapstad toe was.
“Ek was ingehok tussen twee voertuie toe ’n man sy venster oopdraai en ’n groot vuurwapen op my rig en wys dat ek van die pad af moet trek,” vertel sy.
“Ek was op pad Kaap toe vir ’n kurses wat ek moes bywoon, toe dit gebeur het.”
Die vrou vra dat haar naam nie genoem word nie.
Sy sê naby Beaufort-Wes het sy ’n bakkie en BMW-voertuig op die deurpad teëgekom.
“Die voertuie het baie stadig langs mekaar gery en ek het probeer verbysteek,” sê sy.
“Toe ek dit probeer doen, het die BMW my amper van die pad afgestoot en ek is gedwing om weer agter hulle aan te ry.”
Sy het ’n tweede keer probeer verbysteek, maar is weer verhoed om dit te doen.
“Iets was nie pluis nie, het ek gedink. Hoekom sou hulle my keer om verby te ry?”
Die vrou sê sy het verder gery en ’n polisievoertuig voor die ander twee voertuie gewaar.
“Ek het toe rustiger geword en gedink dat hulle my sekerlik nie sou probeer kaap so naby aan die polisie nie,” sê sy.
“Ek het weer probeer verbygaan, maar die BMW en bakkie het toe aan weerskante van my kar gery totdat ek vasgedruk was tussen die twee.”
Die vrou beskryf haar angs toe ’n passasier in die ongemerkte BMW sy venster afrol en ’n vuurwapen op haar rig.
“Hy het vir my beduie dat ek van die pad af moet trek,” vertel sy.
“Ek het met my pa op die foon gepraat en hy het my probeer kalmeer. Ek was so benoud toe ek die vuurwapen sien dat ek kon nie helder kon dink nie.”
Sy sê haar pa het haar aangeraai om na die naaste polisiekantoor te haas.
“Ek het gerem en toe ’n u-draai gemaak oor die pad en in die ander rigting gery na waar ek weet ek ’n polisiekantoor sou kry.”
Die vrou sê by haar aankoms by die polisiekantoor is meegedeel dat die insittendes van die bakkie en BMW lede van die polisie is.
“’n Polisie-offisier het verduidelik dat hulle besig was met ’n ‘escort’ en dat ek ingemeng het toe ek hulle probeer verbysteek het.”
Die vrou sê sy is deur die offisier aanbeveel om nie ’n klag teen die polisie te lê nie.
Hy het aangevoer dat so ’n stap “ongerief” vir haar sou veroorsaak veral omdat sy planne het vir ’n buitelandse besoek.
Sinoville-polisiewoordvoerder adjudant-offisier Johan van Dyk betwis egter dié advies.
“Polisie is nie verhewe bo die wet nie. Enige persoon het die reg om polisielede te rapporteer wanneer hul verkeerd opgetree het,” sê Van Dyk.
“Die slagoffer kan die saak by enige polisiekantoor aanmeld, waarna die klag na die relevante polisiekantoor verwys word.”
LEES OOK:
https://rekordnorth.co.za/125785/vrou-rig-vuurwapen-op-klubgangers-in-noorde/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
