OPVOLG: Noord-swendelaar beveel om geld terug te betaal
“Grobler was reeds in 2011 en 2014 skuldig bevind aan diefstal en bedrog – daarom voel ek dié saak moet meer dringende aandag geniet.”

’n Gesoute swendelaar van Pretoria-Noord is deur die hof beveel om geld terug te betaal aan vyf van haar “kliënte”.
Marita Grobler wat voorheen skuldig gevind is aan diefstal en bedrog, het Dinsdag weer in die Pretoria-Noord-landdroshof verskyn.
Grobler is verlede jaar vasgetrek nadat inligting ontvang is oor ’n beweerde slenter met die verkoop van ’n huis.
’n Pa van Pretoria-Noord het in November die polisie op haar spoor gesit.
Hy het snuf in die neus gekry nadat sy dogter ’n deposito betaal het op ’n huis wat Grobler “bemark” het.
“Toe my dogter my van die lae deposito waarmee sy die huis kon koop vertel, het ek hond se gedagte begin kry.”
Die pa het toe voorgegee dat hy ook in die huis belang stel, waarop Grobler na bewering ook die eiendom aan hom probeer verkoop het.
Die pa, wat nie sy naam wou bekend maak nie, sê hy is terleurgesteld in die gesloer in die hof.
“Die saak word keer op keer uitgestel,” sê hy.
“Grobler was reeds in 2011 en 2014 skuldig bevind aan diefstal en bedrog – daarom voel ek dié saak moet meer dringende aandag geniet.”
Grobler is Dinsdag beveel om geld wat sy verskuldig is aan vyf klaers terug te betaal.
Die saak is uitgestel tot 19 Julie om tyd te gun vir Grobler om die fondse te bekom.
Rekord het in Desember 2013 berig dat Grobler haar onder meer as verhuringsagent voorgedoen het en huurgeld van voornemende huurders ingevorder het.
LEES OOK:
https://rekordnorth.co.za/124335/noord-inwoner-vies-oor-gesloer-in-swendelaar-saak/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
