NewsSchools

SKOLENUUS: VIDEO: Menlopark presteer in koorkompetisie

Laerskool Menlopark het nuwe hoogtes bereik in die Sing in Harmonie-koorkompetisie.

Laerskool Menlopark in die ooste van Pretoria se senior koor het, met hul eerste deelname aan die gewilde Sing in Harmonie-koorkompetisie, na die eindronde deurgedring.

Susan Coetzer, dirigent van dié koor, sê sy het die koor juis ingeskryf bloot vir die “show” daarvan.

Volgens haar was die koorlede veral opgewonde gewees om hulself op televisie te sien en het dit baie geniet om teen verskillende kore van regoor die land mee te ding.

Coetzer vertel geesdriftig dat sy besig is om “iets baie spesiaal vol speelsheid, pret en beweging” vir die finaal van Sing in Harmonie voor te berei.

Voor die eindronde van dié kompetisie, berei sy die koor ook voor vir hulle deelname aan die Wêreld Koor-olimpiade (World Choir Games), die wêreld se grootste internasionale koorkompetisie, wat vir die eerste keer op eie bodem in Pretoria in Julie aangebied word.

“Dit is my droom om dié ervaring vir die kinders te gee. Dis ’n droom waarin ek glo. Sing is lekker.”

Dié koor is op 24 Junie tydens die vierde episode van die sesde seisoen van Sing in Harmonie as die wenkoor van die betrokke episode aangewys.

Die eindronde van dié reeks van Sing in Harmonie, waarvan die eerste episode op 3 Junie op kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) uitgesaai is, sal in September uitgesaai word.

Sing in Harmonie is Anthonie Bougas van Supersterre-faam se breinkind.

Dit is tans die grootste skoolkoorkompetisie in Suid-Afrika, gemeet aan televisieblootstelling, pryspakette en aantal inskrywings.

Bougas is die aanbieder, skrywer en vervaardiger van dié gesogte jaarlikse kompetisie, waar honderde kore van laerskole en hoërskole oor die land heen, teen mekaar meeding.

Suid-Afrika het vir die eerste keer in 2007 met Bougas kennis gemaak toe hy aan Supersterre deelgeneem het. Deesdae sien ons hom as aanbieder van verskillende programme soos Sing in Harmonie, Kleuterzone en Solis vir Christus. Hy het al selfs ’n draai in die sepie Villa Rosa gemaak.

Vanjaar is daar 150 kore landwyd wat deelneem.

“Die kompetisie het geweldig hierdie jaar gegroei. Kore wat deurdring na die finaal is op ’n hoë standaard en harde werk spreek vanself,” sê Bougas.

“Ek dink Sing in Harmonie skep ’n nuwe platform vir kore regoor ons land. As gevolg van TV-dekking, kry koorleiers ook nou die geleentheid om hulle te meet aan ander kore tydens die uitsendings. Dit het ’n groot impak op die groei van standaard. Daar is kore wat so verbeter het sedert die eerste jaar.”

Die akteur en sanger Izak Davel, Phillip Kotze, omroeper van Groot FM, Hannelie van Sittert met meer as 37 jaar se koorervaring en Lizl Gaffley, wie se eie koor van die Kenmere Primary School in Kensington, Kaapstad in 2015 Sing in Harmonie gewen het, beoordeel weekliks saam met Bougas deelnemende kore.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) ondersteun dié koorkompetisie vir die tweede agtereenvolgende jaar.

Johan Jansen van Vuuren, projekbestuurder van die FAK, sê die FAK tree op as trotse kultuurvennoot van Sing in Harmonie.

“Die bevordering van koormusiek is vir die FAK baie belangrik. Deelnemers ontvang FAK-sertifikate, wenkore ontvang FAK-trofees en FAK-Sangbundels word uitgedeel. Die bevordering van koormusiek is die sleutel tot jeugontwikkeling en taalgrense.”

Kyk hier na ’n video van Laerskool Menlopark se koor kort ná die oorwinning:

https://www.facebook.com/673186959444174/videos/1737621016334091/

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button