As die kat weg is, kan die muise ‘kerJakker’
Jakkie Louw praat met Rekord oor familielewe, sy toekomsplanne en daardie bekende Jakkie-kappie.
Dié driejarige seuntjie kan net nie ophou wriemel nie.
Juffrou help en sê stilsit julle, dis teater.
“Sjuut, Pokkel slaap.” Die seuntjie kyk met groot ogies na Felias. Juffrou sê ek’t gesê julle moet stilsit.
En daar lag die sanger, liriekskrywer en nou ook meester van die poppekas uit sy Jakkie Louw-maag.
“Felias en Pokkel leer die kinders oor teater-etiket. Moenie praat of wriemel as die akteur óf die kouspop besig is met ’n show nie.”
Felias en Pokkel, sy twee muis-kouspoppe waarmee hy deesdae die hele Gauteng (en ook die hele land) vol toer, slaap nou in hulle “muisbedjies”.
Jakkie het ook sy altstem, wat hy vir Pokkel inspan, en sy sopraanstem, wat weer aan Felias behoort, gebêre.
Die poppekas, “wat deur twee ingenieurs ontwerp is”, is in sy motor se kattebak opgevou. Tot môre, wanneer hy weer na ’n kleuterskool toe gaan om die wonderlike muiswêreld van Felias en Pokkel met die kinders te deel.
Die vertoning duur 45 minute. Die teks en liedjies het hy self geskryf en gekomponeer, en opgeneem vir ’n opkomende kinder-CD.
LEES OOK: VIDEO: New anthem by Afrikaans duo Anders celebrates Pretoria
Hy het die kouspoppe self ontwerp, “maar ’n tannie het hulle gemaak”.
Soos kindersupersterre Ghoempie en Lollos is Felias en Pokkel in hul eie reg ook oppad na superster status.
Felias en Pokkel is die nuwe muis-supersterre van die jaar …
“Ja,” grinnik Jakkie soos ’n muis wat intussen op ’n hoop goue kaas afgekom het.
“Ek dink ek het poppekas weer mode gemaak. Ek weet daar is steeds mense wat poppekaste aanbied in klein groepies, maar ek wil hierdie poppekas nasionaal na die Suid-Afrikaners neem. Poppekas moenie so beperk word tot nie.”
Hier, op sy stoep by sy huis in die ooste van Pretoria, is Jakkie pappa van twee dogtertjies, Linke (7) en Kara (5). Gemaklik in sy 40-jarige lyf. Hy maak sy kenmerkende Jakkie Louw hoedjie reg.
“Lizz Meiring sê dit is nie meer ’n hoed nie, maar ’n Jakkie-kappie.”
Hy hap aan een van sy eie “gesonde” hawermoutkoekies. Dié koekies kraak eers hard onder die tande, dan smelt dit onder die tong.
Dis net nog een van sy vele Jakkie-projekte. Hy het selfs al twee kookboeke geskryf – Die Beste Boere Resepteboek Ooit Geskryf deur Jakkie Louw , vir grootmense en die Koekieloekie Resepteboekie vir kinders.
Sy projekte hou net nie op nie. Daar is ook Die Musikant se Handboek vir Jong Opkomende Musikante, sy eie parfuumreeks vir mans en vroue, karselfoonmagnete en Jakkie Louw-kêpse en T-hemde … dit stoom net voort.
“My eie sonbrandmiddel, Lakkie Jouw 40-SPF-sonroom, is deur Kansa goedgekeur. Ek het gelees dat as jy sonbrandmiddel kan drink dan is dit goed vir jou vel …
“Nee, moenie!” keer hy vinnig, “Moenie dit drink nie!
LEES OOK: Afrikaanse Hoër Meisieskool verwelkom nuwe rektor
Op ’n meer ernstige noot het hy ook ’n anti-boelieveldtog, WIE SE JY IS JY.
Jakkie glo vas dat Felias en Pokkel tot dusver sy kreatiefste projek is.
Dit bied ’n uitstekende geleentheid om sy flair vir die dramatiese kunste uit te leef.
“Ek het B.Com gestudeer, maar al my vriende het drama geswot. Ek het baie by hulle van drama geleer. En so tussendeur myself ook geleer.”
Felias en Pokkel het net skielik een aand gebeur, vertel hy.
“Ek het twee dogtertjies en slaaptydstories is vir ons gesin baie belangrik. Ek het hulle van prinsesse en prinse vertel, van kastele en monsters en toe raak my stories uitgeput. Ek meen, hoeveel variasies van prinse en prinsesse is daar?
“Kara is nou op daardie ouderdom waar sy baie vrae vra. ‘Hoekom dit,Pappa?’ en ‘hoekom dat, Pappie?’ So beantwoord Felias en Pokkel al haar vrae. Hulle is twee boeties. Felias is die slim, maer muis. Pokkel die ronde en jonger muis.”
Felias en Pokkel het egter nie net in sy verbeeldingswêreld gebly nie; toe hy weer sien word hulle lewendig. Op papier en op ou kouse en by kleuterskole.
Hy het hulle gesien. Felias met ’n grootraambrilletjie. Pokkel, baie vet van al die kaas.
In Februarie het hy vir die eerste keer by Kara se kleuterskool poppekas gehou; toe begin die mammas vir ’n boek en CD vra.
Zita Oranje, ’n jong opkomende illustreerder van Höerskool Waterkloof, gee lewe aan die muise. Jakkie skryf en Felias en Pokkel hou partytjie, en so word ’n hele nuwe wêreld so tjoef-tjaf gebore.
Felias en Pokkel het intussen nuwe maatjies gekry.
Daar is Eeeee-jonkie Donkie, Vrottie Koko-rottie, Tienie die TV Vlieg, Chris die Verkleur-mannetjie, Airwolf die Kraai, Meaau die Kat en Jakkie die Gawe Boer
Kontak anel@jakkielouw.co.za vir navrae oor die poppekas of gaan besoek die webwerf hier.



Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
