Nie almal is gemaklik met digitale betalings nie, sommige van ons, of iemand wat ons ken, het al in ‘n slaggat getrap deur aanlyn betalings te maak of selfs net om geld te trek by ‘n OTM.
Wat is digitale betalings?
Digitale betalings kan beskryf word as betalings wat gemaak word deur gebruik te maak van digitale toestelle, bv. selfoon, rekenaar, tablet ens. Daar is geen kontant betrokke by die transaksie nie. Die betaler sowel as die ontvanger van die betaling gebruik elektroniese toestelle.
Al hoe meer mense beweeg weg daarvan om met kontant rond te loop omdat die risiko groot is dat jy beroof sal word. Maar aan die anderkant is daar nog soveel mense wat al hulle geld uit die bank sal trek, omdat hulle nie die opsie het om digitale- of aanlynbetalings te maak nie. Om met jou kaart in die formele mark te betaal, is maklik en gerieflik. Dit is egter baie meer beperk in die informele sektor. Die infrastruktuur wat alternatiewe betalingsplatforms ondersteun is nie in plek nie. Van die handelaars aanvaar nie kaart- of selfoonbetalings nie omdat die platforms te duur is. Omdat hulle dit nie kan bekostig nie dwing hulle hulle gebruikers om geld te trek.
Voordele van digitale betalings:
- Jy hoef nie kontant orals saam met jou te dra nie. Sommige mense verkies dit, maar dit is veiliger om nie met kontant die heeltyd rond te loop nie. As jy dit sou verkies om eerder kontant by jou te hou, en jy moet geld trek by die OTM, staan so naby aan die OTM as moontlik, sodat niemand anders jou pin (persoonlike identifikasie nommer) kan sien nie. Wanneer jy binne die bank kontant trek, maak seker dat jy nie agtervolg word nie. Moet ook geen hulp van ‘n vreemdeling aanvaar om jou te help by die OTM nie.
- Jy is in beheer van die betaling, want jy gee nie jou kaart vir ‘n ander persoon om die betaling te maak nie. Jy vul jou besonderhede in op ‘n betroubare webtuiste om die betaling te maak. Daar word dan ook ‘n boodskap deurgestuur na jou foon om te bevestig dat jy, as die eienaar van die kaart, die betaling wil maak. As jy met jou kaart die betaling maak, moenie dat die persoon wat die betaling ontvang wegloop met jou kaart nie. Maak seker jy hou die persoon dop wat jou kaart moet prosesseer. Moenie dat jou kaart uit jou sig gaan nie.
- Deesdae het kaartmasjiene ook ‘n nuwe opsie, “tap and go”, wanneer jou kaart nie eers by ‘n kaartmasjien ingedruk word nie. Jy kan ook kies tot op watter bedrag dit nie nodig is om jou geheime kode in te sit nie. Wanneer jy jou kode moet insleutel, dra sorg dat niemand anders jou kode kan sien nie.
- Van die digitale betalingsopsies is om te “scan and pay”. Jy laai die toepassing (“app”) gratis af op jou selfoon. Wanneer jy by besighede, wat dit wel aanvaar, moet betaal, neem jy net ‘n foto van hulle kode, wat jy by die kassier sal kry, en die transaksie word op jou kaart geprosesseer. Jy is ten volle in beheer daarvan.
“Sommige van die algemene digitale betalingsplatforms is PayFast, PayU, Peach Payments, Wirecard, Paygate en PayPal. Jy kan hierdie platforms met ‘n geruste hart vertrou omdat hulle van die top maatskappye is wat die sekuriteit van jou inligting eerste stel”
Voordele van digitale betalingsplatforms :
- Dit voorsien aan moderne verbruikersbehoeftes,
- Lae persentasie kostes per transaksie a.g.v kompetisie.
- Lae kostes vir plaaslike en internationale betalings e.g aanlyn weddenskappe teen baie lae kostes.
Risiko’s van digitale betalings:
Met al hoe meer verbruikers en gebruikers wat verkies om van digitale betalings gebruik te maak, raak die kanse ook groter om blootgestel te word aan die risiko’s van kubersekuriteit. As jy nie versigtig is nie kan jou inligting blootgestel word en bedrog kan plaasvind. Daar is ook die moontlikheid dat jou selfoon of rekenaar, ‘n virus kan optel omdat virus besmette dokumente of e-posse oopgemaak is.
Wenke vir aanlyn betalings
- Maak seker dat die webtuiste, waarop jy jou kaart besonderhede invul, veilig is. Daar sal ‘n teken van ‘n slotjie wat gesluit is, voor die webtuiste se adres wees. As dit nie ‘n geslote slotjie is nie, moet nie jou kaart besonderhede invul nie.
- Moenie jou kaart- of rekening besonderhede vir enigiemand telefonies gee nie. Maak nie saak wat hulle sê of van waaraf hulle jou skakel nie.
- Moenie enige e-posse of dokumente oopmaak wat jy saam met ‘n e-pos van ‘n vreemde persoon of maatskappy af gekry het nie. Moet ook nie e-posse van jou bank of enige ander bank af vertrou nie.
- Maak seker jy kry ‘n boodskap (per sms of e-pos) van die bank af sodra enige transaksie plaasvind op jou rekening. Jy kan ook bepaal bo watter bedrag die bank jou in kennis moet stel.
