Moot-musikante hou droogtehulp kuberkonsert
“Die items was van hoogstaande gehalte – ons is so trots op ons plaaslike kunstenaars!"
Plaaslike kunstenaars het onlangs die kuberverhoog betree ten bate van droogtehulp vir boere.
Op 24 Julie het verskeie musikante en kunstenaars in ’n kuberkonsert deelgeneem om fondse vir droogtehulp in te samel.
“Aangesien dit ’n virtuele konsert was, kon mense vanoor die hele wêreld die konsert meemaak,” sê organiseerder Lydia Veldman.
“Dit is so ’n nuwe konsep en baie mense het nie juis geweet hoe en waar hulle die kaartjies moes afhaal, hoe hulle moet inskakel, en wat om te verwag nie. Maar daar het groot opgewondenheid geheers en deelnemende kunstenaars sowel as ‘gaste’ was entoesiasties en opgewonde. Nou weet ons en kan ons net op ons eerste poging verbeter!
“Die items was van hoogstaande gehalte – ons is so trots op ons plaaslike kunstenaars! Van tjello tot pyporrel – van briljante solo’s tot ’n gesin wat pragtig saamsing -’n wye verskeidenheid met kunstenaars uit ons eie geledere,” sê sy.
Veldsman sê selfs Hoërskool Oos-Moot het vier items dié aand op die agenda gehad.
LEES OOK: Nog drie aanlyn konserte vir die Voortrekkermonument
“Een van die leerders, André van der Walt, het eiehandig die klavesimbel waarop hy gespeel het, vroeër gerestoureer.”
Sy sê met die vorige konserte het hulle dorpies soos Victoria-Wes gehelp met ’n geskenkbewys aan ’n groep boeregesinne.
“Hulle kon dan self by die plaaslike winkel kos gaan koop,” verduidelik Veldman.
Veldman vertel met die insameling van hierdie konsert se fondse het hulle, die TLU, asook die koordineerder van die droogtehulp in die Noord-Kaap, Sybil Visagie, besluit om dit aan te wend vir die aankoop van bestanddele vir die “Koekiebakprojek”.
“Die boervrouens en selfs van die boere bak die lekkerste koekies wat regoor die land versprei word. Hulle staan nie bakhand en bedel nie maar woeker met hul talente om sodoende te oorleef.”
Die koekies word deur Veldman of die Caring Daisy organisasie in ’n 2-liter emmer verpak en teen R80 verkoop.
“Vir diegene wat die konsert misgeloop het, is daar nog ’n kans om dit mee te maak deur ’n kopie van die konsert aan te koop. Sodoende kan ons nog heelwat vir die projek insamel.”
Veldman het elkeen wat ’n bydrae gelewer het bedank.
“Vir elke kunstenaar asook elke persoon wat ’n kaartjie gekoop en/of ’n donasie gegee het. Dit voel dalk min, maar as ons saam staan, kan ons ’n verskil maak in ons mense se lewens.”
Veldman sê hulle dink al klaar aan ’n opvolgkonsert.
“Begin solank oefen – saam maak ons ’n verskil!” sê sy.

Do you have more information about the story? Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
