Local newsNews

Affies Meisies maak die beste van ‘n slegte saak

"Maar toe ons mekaar na al hierdie maande weer gesien het, het ons net besef dat ons hier vir mekaar is."

Afrikaanse Hoër Meisieskool en Afrikaanse Hoër Seunskool vier vanjaar hul 100e bestaansjaar.

Die eeufeesjaar het effens anders uitgedraai as wat beplan was, maar die koronavirus was op die einde van die dag nie ’n demper in die Affies-kultuur nie.

In Januarie vanjaar het dié skole hul 100e bestaansjaar viering begin.

Ter feesvieringe, het oor die 2 500 voete die Jakarandastrate ingevaar waar duisende leerlinge, personeel en voormalige Affies die staptog vanaf Burgerspark na die seunskool aangedurf het.

Hiérdie geleentheid was egter die laaste van soveel planne wat in die wiele geruim is.

Die pandemie het veral groot eise aan die matriekklas van 2020 se planne gestel.

Die matriekklas van 2016, het verlede week vir vanjaar se Affies Meisies-matrikulante met ’n wit roos in die hand by die skoolhekke ingewag.

LEES OOK: Laerskool Saamspan learner tests positive for Covid-19

Oud-president van 2016, Philissa Reynecke sê alhoewel hierdie pandemie elke dame in die gesig staar, kruis hulle dit ook met liefde, geloof en volharding.

“Ons kyk terug na elke hartklop wat geskiedenis maak in 2020. Niemand het verwag dat 2020 so sou uitdraai nie. Ons is trots op elke dame wat die beste van ’n slegte saak gemaak het,” vertel Reynecke.

Janie van der Westhuizen, matriek 2020 se VLR, sê dat hierdie jaar geweldige uitdagings gestel het.

“Ons het mekaar nie gedurende pouses gesien nie en dit is maar net een van die lekker geleenthede wat van ons as matrieks ontneem is.

“Maar toe ons mekaar na al hierdie maande weer gesien het, het ons net besef dat ons hier vir mekaar is,” sê Van der Westhuizen.

Die meisies het op hulle “40 days” ’n massabank voor die hoofgebou se grasperk gehou.

“Die ouers het soveel moeite gedoen. Dit was baie spesiaal. Ons sou nie die matriekgroep gewees het as dit nie vir die 2016-matrieks was nie,” sê sy.

Nicolette Botha, 2020 se vise-president, sê dat hulle reeds deur die ergste is wat die akademiese jaar betref en dat hulle as dames saam sal staan.

“Toe ons hoor dat alle bedrywighede vir 2020 afgestel is, was ons uit die veld geslaan. Ons weet al van graad 8 af dat ons die 100-jaar matrieks is.

LEES OOK: Laerskool Wierdapark learner tests positive for coronavirus

“’n Mens besef nie die waarde van wat dit beteken om in Affies te wees voordat jy vir so ’n lang tydperk nie by die skool was nie,” sê Botha.

“Alles wat ons ken, is Affies. Die Affieskultuur is om hier te wees. Ek sou nie dit sonder sussieskap gemaak het nie.

“Ons het ongelooflike onderwysers wat ons tot op hierdie punt gedra het,” sê Botha.

Oud-Affie, Elzanne Kelbrick is drukbesig om ’n amptelike Alumni-blad vir alle oud-dames te skep.

Kelbrick, president van matriekklas-2015 asook bestuurder van AHMP-alumni, nooi alle oud-leerlinge om by hierdie inisiatief betrokke te raak.

“Die idee agter die alumni, is om ’n komponent van die skool se bedrywighede te skep.

“Ons is in die proses om ’n logo vir die blad te stig, en dit is waarom ons alle oud-leerlinge nodig het. Wees kreatief en dink terug aan die tyd toe jy op skool was,” sê Kelbrick.

“Liefste oud-Affie! Kom ons skep die alumni wat ons nog altyd wou gehad het; ’n susterskap wat nooit sal vergaan nie.

“Die skoolgebaseerde-alumni beplan steeds ’n fees in die jaar 2021. Ons sien baie uit na ’n groot reünie-naweek by die skool en vele meer,” sê sy.

Affies se storie het alles in 1919 by Generaal Jan Joubert se woonhuis in Visagiestraat 218 begin.

Die skool het amptelik sy deure op 28 Januarie 1920 oopgemaak.

Frederik Botha was as die eerste amptelike skoolleerling op 27 Januarie 1920 geregistreer en J.A.K. de Lange was die skool se eerste waarnemende hoof.

Die skool het met 35 leerlinge, een onderwyser en twee assistent-onderwysers begin.

Frank le Roux het die leisels by De Lange, as die skool se eerste permanente hoof, oorgeneem.

Na sewe jaar het die skool van die Joubert-woning na ’n nuwe gebou (vandag se gronde van die Afrikaans Hoër Meisieskool) geskuif.

Die skool het naderhand uit sy nate gebars en aan die einde van 1927 het hulle na ’n groter gebou, die Hoogere Oosteind, een van die eerste Nederlandse mediumskole, verhuis.

Twee jaar later is die besluit geneem om die seuns en meisies te skei en so het die twee skole tot stand gekom.

Die gebou in Visagiestraat is oor die jare gesloop en al wat van die skool oorgebly het, was balke. Hierdie balke is op die skole se verjaarsdag aan die twee skole oorhandig.

Afrikaanse Hoër Meisieskool se Janie van der Westhuizen (matriek VLR) en Nicolette Botha (vise-president).
Afrikaanse Hoër Meisieskool se Janie van der Westhuizen (matriek VLR) en Nicolette Botha (vise-president).

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:

Rekord East

Rekord North

Rekord Centurion

Rekord Moot

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button