Hierdie diefstalle vier hoogty in Moot
"KPS wil egter die gemeenskap in die omgewing bedank wat op en wakker is en veral die wat hul samewerking gee om verdagtes vas te trek."
Kabel-en hekmotordiefstal asook huis-inbrake vier hoogty in die Moot-area.
Só sê woordvoerder van Kilnerpark Sekuriteit (KPS), Ancelize van der Kooi.
“In die afgelope week is ses gevalle van kabeldiefstal, veral op die Pierneefrus-spoorweg, aangemeld waarvan ons vier suksesse gehad het waar die verdagtes vasgetrek is,” vertel sy.
“Dié kabels is derduisende rande werd.

“Kilnerpark-sekuriteit wil egter die gemeenskap in die omgewing bedank wat op en wakker is en veral die inwoners wat hul samewerking gee om ons werk makliker te maak om verdagtes vas te trek.”
LEES MEER: UPDATE: Kilnerpark water leak repaired
Die reaksie-offisiere van Kilnerpark is verlede week na die spoorlyn naby Bernardusstraat ontbied waar verdagtes met kabels opgemerk is.
“Nog ’n kabeldiefstal wat aangemeld is, was ’n poging tot kabeldiefstal in 10e laan en Ellastraat nadat verdagtes kabels probeer steel het,” sê sy.
“Die kabels is in die verdagtes se sakke gekry wat dié in die straat gelos het, maar die verdagtes het reeds gevlug.

“KPS het ook onlangs ’n verdagte, wat onder ’n inwoner se voertuig weggekruip het, vasgetrek. Die tweede verdagte is in 12e laan gekry,” vertel sy.
Verlede week is KPS na ’n toneel in Nico Smit-straat ontbied nadat ’n ouerige dame deur twee verdagtes oorval is.
“Die slagoffer is aangehou en aangerand. Die verdagtes is egter nog nie vasgetrek nie.”
Nóg ’n voorval van ’n huisinbraak is in Breedtsraat aangemeld.
LEES MEER: Briesend oor oortollige stormwater in Kilnerpark

“Die verdagte is op die perseel met gesteelde goedere in sy besit vasgetrek,” sê Van der Kooi.
Kaptein Anton Breedt van Pretoria Moot-polisiestasie sê dat hekmotordiefstal deesdae weer begin kop uitsteek.
“Huis-inbrake is nie uitermatig hoog nie,” sê hy.
“Dit gesê wil ons steeds die gemeenskap aanmoedig om misdade soos kabeldiefstal en huis-inbrake by hul naaste polisiestasie aan te meld.
“Wees op die uitkyk vir verdagtes en moet nie waardevolle goed opsigtelik vir misdadigers maak nie,” raai Breedt inwoners aan.
Villieria-polisiewoordvoerder kaptein Coba Brits het ook die gemeenskap aangemoedig om na hul besittings om te sien.
“Daar word op ’n daaglikse basis huis-inbrake by ons aangemeld,” sê Brits.
“Elke modus-operandi is min of meer dieselfde waar boewe die hek oopbreek en toegang tot die erf kry.
“Elektroniese waardes soos skootrekenaars en selfone is van die items wat gesteel word,” sê sy.
Brits sê verder dat inwoners die reeksnommers van hul hekmotors moet kry.
“’n Harnas kan oor die hekmotor gesit word wat met ’n slot toegesluit kan word om die proses van diefstal te bemoeilik.
LEES MEER: Moot Covid-19 resident discharged from hospital
“Alarmstelsels en beeldmateriaal is ’n móét wanneer dit kom by verdagtes te identifiseer,” sê sy.
Van der Kooi raai inwoners aan om die volgende in gedagte te hou wanneer hulle ’n boef by die polisie aanmeld:
– Geslag van die verdagte.
– Ras van die verdagte.
– Beraming van die ouderdom.
– Hoogte en gewig.
– Kleur van die verdagte se hare.
– Kleur van die verdagte se oë.
– Dra die verdagte brille?
– Is daar enige duidelike merke bv. tattoes?
– Kleredrag: kleur; het die verdagte ’n baadjie aangehad asook die tipe skoene.


Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites:
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
