Pretoria Oos-paartjie vier 60e huweliksherdenking
“Sy is een uit ‘n miljoen met ‘n kombinasie van skoonheid en intelligensie."
Pretoria Oos-inwoners, Jurie Hendrik en Maria Helena Germishuys, het aan die einde van Maart, hul 60e huweliksherdenking gevier.
Die twee het op 31 Maart 1961 die knoop deurgehak.
Hulle het vir 37 jaar in Lynnwood tuisgegaan, maar woon tans in Mooikloof-landgoed.
Die Germishuys-paartjie sê dat wedersydse respek ’n belangrike rol vir ’n lang getroude lewe is.

“Jou eerste prioriteit moet altyd jou lewensmaat wees.
“Wees bedagsaam, onselfsugtig en eerlik teenoor mekaar en bid baie.
“Behandel mekaar met respek en liefde.
“Dit is ook genade van Bo en daarvoor is ons dankie.”
Familie en vriende ken hulle as Joeks en Miemsie.
Hierdie twee het mekaar as studente by die Universiteit van Stellenbosch ontmoet.
Miemsie was ’n eerstejaarstudent in huishoudelike ekonomie en Joeks ’n tweedejaar-student in meganiese ingeneurswese.
Op 3 Maart 1957, was ’n klompie studente op pad kerk toe.
Joeks het saam met ’n vriend geloop wat Miemsie toevallig geken het.

Hy het vir sy vriend gevra om hom aan Miemsie voor te stel.
Die twee was in ’n oogwink dolverlief op mekaar.
Miemsie, wat oorspronklik van Citrusdal in die Wes-Kaap kom, en Joeks het ’n troudatum vir 1 April 1961 vasgemaak.
Joeks het intussen ’n werk by die destydse Suid-Afrikaanse spoorweë gekry en sou sy gesinstoelaag verloor as hy nie teen 31 Maart getroud is nie.
Hulle is toe in die dominee se pastorie in Citrusdal getroud.
Die groot makietie het egter op 1 April 1961 plaasgevind, maar hulle beskou 31 Maart as hul amptelik troudag.
Joeks sê dat sy vrou ’n ongelooflike mens is.
“Sy is een uit ’n miljoen met ’n kombinasie van skoonheid en intelligensie.
“Sy is werklik ’n mooi vrou van buite, maar ook van binne,” sê hy.
“Miemsie is altyd behulpsaam en baie besorg oor my en haar kinders.
“My vrou is kreatief en kunstig en kan baie mooi skilder. Ek dink tot en met vandag toe nog dat sy ’n beeldskone vrou is.
“Sy het ’n wye belangstelling en is baie lief vir plante. Sy het die wonderlikste groen vingers – sy kan enigiets maak groei. Miemsie hekel en brei die mooiste truie, vul Sudoku en blokkieraaisels in en bly fiks deur te stap,” sê Joeks.
Hulle het vyf kinders – drie dogters en twee seuns.
Miems sê dat Joeks ’n liefdevolle pa, ’n sterk leier en ’n goeie ingenieur is.
Hy was ’n burgermag-vegvlieënier en het sy liefde vir vlieg by albei sy seuns gekweek wat ook vlieëniers geword het.
“Hy dwing respek by almal af.
“Joeks se sterk waardes en integriteit is ’n voorbeeld vir ons almal,” vertel Miemsie.
Die twee het jare saam praktiese pistoolskiet beoefen.
Miemsie het Noord-Transvaal-kleure in hierdie sport verower waar sy tien jaar deel van die span was.
’n Paar jaar terug, het die twee ’n klein grenadella-boerdery begin wat hulle behartig.
“Ons kinders is gesond, intelligent en is suksesvol in eie reg,” vertel die twee.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
