Suid-Afrikaanse kunstenaars het aanhangers aan die gons
Rooibos en Wijn, Wynand Strydom, Ruiter Piet en Herman Kleinhans het onlangs hulle opnames vrygestel.
Suid-Afrikaanse musiekaanhangers kan nou na van die land se topkunstenaars se nuutste enkelsnitte luister.
Rooibos en Wijn, Wynand Strydom, Ruiter Piet en Herman Kleinhans het onlangs hulle opnames vrygestel.
Rooibos en Wijn se debuutsnit, “Sonskyn Kind” is pas vrygestel en dié liedjie is deur die hoofsanger, JP van Zyl gepen.

Dit is geïnspireer nadat Van Zyl en ’n vrou ure aaneen oor die lewe en natuurlik, die liefde, gefilosofeer het.
Die liedjie begin met die lirieke: “Ek sien Jerusalem in jou oë, skryf ek halwe gedigte ook.”
Dít som presies op waar dié liedjie se oorsprong vandaan kom – vanaf sy muse en onvoltooide gedigte.
“Sonskyn Kind” gaan oor ’n meisie op wie Van Zyl verlief geraak het.

Die enkelsnit en video word digitaal deur Coleske Artists versprei.
Om die liedjie te luister, kan die volgende skakel gevolg word: https://rooiboswijn.lnk.to/SonskynKindMB
Sanger en liedjieskrywer, Wynand Strydom, is terug met ’n splinternuwe-enkelsnit, “Skemerblom”.
Nege jaar na die vrystelling van sy laaste enkelsnit “Oseaan se Blou” in 2012, heers daar groot opgewondenheid oor sy eerste oorspronklike Afrikaanse enkelsnit-vrystelling, “Skemerblom”.
Reeds in die openingsklanke met die besondere lirieke: “Is ’n honderd jaar genoeg, as die rigting na my roep?”, wéét die luisteraar, wat om te verwag.
Die liedjie is deur PJ Cruiz geskryf.
Ondanks uitdagings, wen liefde op die einde van die dag.
Hierdie tema word verder in die lied op ’n besondere manier en met fyn nuanses uitgebrei.
Die produksie van “Skemerblom”, is deur Ray Dylan behartig.

“Skemerblom” is sopas op alle digitale platforms vrygestel en is een van daardie snitte wat spore lánk na die sluitklanke van die liedjie los en is ’n besliste móét vir elke oor.
Luister na “Skemerblom” hier – https://WynandStrydom.lnk.to/Skemerblom
Ruiter Piet het ’n liedjie saam met Jack Parow genaamd “Lit-Skud” opgeneem.
Parow is een van Suid-Afrika se beste kletsrymers.
Hierdie is Ruiter se nuutste enkelsnit vanaf sy opkomende debuut album, “Vrydae Aande, Maandae Oggende”.

Luister na “Lit-Skud” deur die volgende skakel te volg: https://ruiterpiet.lnk.to/Lit-Skud
Herman Kleinhans, ’n uiters talentvolle musikant en lid van die groep Twee, het baie aandag getrek toe hy ’n paar jaar gelede die Afri-Visie-liedjieskryfkompetisie gewen het.
Met die suksesvolle vrystelling van sy nuutste solo-album Ruite Oop het hy beslis die lig laat sien met die eerste enkelsnit, “Vliegtuig”, wat van die album geneem is en steeds landwyd op radio gehoor word.
Hy volg die eerste vrystelling nou op met ’n pragtige huldeblyk aan sy moeder, getiteld “Dankie”.
Die musiekvideo van hierdie liedjie, wat deur Wian van der Walt van Vonk Musiek vervaardig is, word binnekort uitgereik.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
