Nóg ‘n terugslag vir Van der Merwe-gesin
"Dit is nie net 'n pleister wat jy op 'n seertjie kan plak en na 'n dag of twee is die wond gesond nie."
’n Graad 4-leerder van Laerskool Totiusdal in Waverley, Miné van der Merwe, het onlangs ’n groot terugslag beleef nadat sy met ’n seldsame siekte gediagnoseer is.
Die dokters het ’n seldsame radiologiese siekte wat gekenmerk word deur die teenwoordigheid van gas in die dermwand, akute Pneumatosis Intestinalis, in haar liggaampie opgemerk.
Miné se mamma, Desiré, sê dat dit ’n wye spektrum van moontlike onderliggende diagnose, wat wissel van goedaardige tot lewensbedreigende toestande, insluit.
Sy sê dat Miné ’n 20% kans het om te herstel.
“Klein Miné is maar stil.

“Daar is oomblikke wat sy hartseer is en sê dat sy nie wil doodgaan nie, maar sy is ’n baie sterk dogtertjie met ’n vegtersgees. Niks kry haar sommer onder nie.”
Dié 10-jarige is in 2019 met akute Meyloïde, ’n tipe kanker in die bloed en beenmurg met ’n oormaat onvolwasse witbloedselle, gediagnoseer.
Die kanker is in Februarie 2020 verwyder, maar ’n paar maande later het die kanker weer opgeduik.
Later daardie jaar het die dokters die gesin aangeraai dat ’n beenmurgoorplanting nodig is. Die operasie was ’n sukses en sy is sedertdien kankervry.
Sy is egter van verlede Dinsdag in die hospitaal met akute Pneumatosis Intestinalis.
“Ons klein vegtertjie het in Januarie waterpokkies gehad wat haar hart, longe en lewer aangetas het.
“Die dokters moes haar vir vyf minute resussiteer.”
Sy was aan ’n ventilator gekoppel.
“Ons is raad-op. Ons wil haar graag terug by die huis hê, maar onder omstandighede is dit nie nou moontlik nie,” sê sy.
“Die Here is goed vir haar en ons. Hy loop die pad saam met ons al vir twee jaar vanaf Miné se eerste diagnose. Hy het ons nog nooit in die steek gelaat nie. Alle ere aan Hom. Ons weet Hy gaan haar deur hierdie herstelproses ook kry.”
Die klein donkerkoppie het op 11 April haar tiende verjaarsdag gevier en kon ten minste daardie dag saam met haar pappa, Pieter, en haar broer, Luan, spandeer.
“Ons het almal se gebede nodig. Ons vat dit dag vir dag.
“Dit is nie net ’n pleister wat jy op ’n seertjie kan plak en na ’n dag of twee is die wond gesond nie,” sê haar mamma.
Desiré vertel dat Miné haarself besig hou deur te verf.
“Sy is gek en trots op haar kunswerke.

“Hoewel sy droewig is, helder haar kunswerke haar dag op.”
Laerskool Totiusdal het die Vrydag voor haar verjaarsdag, die leerders en personeellede aangeraai om iets blou saam met hul skooldrag aan te trek om Miné se verjaarsdag te vier.
Die skool het Miné vir haar deelname in die “lewenswedloop” vir haar stryd teen kanker, tydens ’n meriete-geleenteid vereer.
Armbandjies, ‘Brave Heart’, ’n fondsinsamelingsprojek wat deur Miné se ouers op die been gebring is, kan aangekoop word om die familie finansieel by te staan.
Vir diegene wat graag by die projek betrokke wil raak, kan Miné se sosiale-mediablad, Miné van der Merwe vs Leukemia, dophou.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
