Personeellid van Oos-Moot stap met gesogte toekenning weg
"Ek het nie eens verwag om genomineer te word nie, wat nog te sê om met die gesogte prys huis toe te stap."
Die sekretaresse van Hoërskool Oos-Moot, Carina Wiid, is as Solidariteit se kantoorkampioen vir 2020 aangewys.
Wiid, wat sedert 2019 as die hoof se sekretaresse by die skool betrokke is, sê dat dié toekenning ’n groot verrassing was.
“Ek was uit die veld geslaan toe ek hoor dat ek vir die toekenning in aanmerking gekom het.
“Ek het nie eens verwag om genomineer te word nie, wat nog te sê om met die gesogte prys huis toe te stap.”
Wiid noem ook dat dit ’n groot eer en ’n voorreg is.
“Dit is so ’n spesiale toekenning en dit is ’n bewys dat my werk nie ongesiens verbygaan nie.
“Ons is ’n gedugte span administratiewe personeel by die skool en dit is lekker om erkenning vir dit wat ek doen, te kry.”

Die toekenning word sedert 2019 deur die Solidariteit Kantoorpraktisyn-gilde aangebied.
Die doel van hierdie toekenning is om administratiewe personeel van regoor Suid-Afrika vir hul bydraes tot die werksplek, te vereer.
Wiid was een van 20 finaliste wat na die gala-aand, wat in April gehou is, uitgenooi is.
“Soos die topfinaliste se name uitgeroep is, het ek met groot afwagting gesit en wag,” vertel Wiid.
“En siedaar! Die kantoorkampioen vir 2020, word aan Carina Wiid toegeken.”
Beheerliggaamvoorsitter van Hoërskool Oos-Moot, Carin Stoltz-Urban, het Wiid as kampioen genomineer.
“Ek het op sosiale media gesien dat Solidariteit die nominasielys vir die 2020-kantoorkampioen oopgemaak het en die eerste naam wat in my kop gekom het, was Carina,” vertel Stoltz-Urban.
“Sy is een uit ’n miljoen.
“Sy hou die bal in die lug en ek dink Oos-Moot sou sonder haar insette gesukkel het.
“Soms weet ek nie hoe sy alles tergelyk doen nie,” sê sy.
“Van die beheerliggaam en van die skool se kant af, wil ons vir Carina vir haar harde werk bedank.”
Sektorhoof van die kantoorpraktisyn-gilde, Marisa Engelbrecht, sê dat hierdie toekenning daarop gerig is om administratiewe steunpilare binne enige maatskappy erkenning te gee vir wat hulle doen.
“Ons is elke keer stomgeslaan oor die juwele wat in verskeie maatskappye regoor die land die steunpilare in hul werkplekke is.
“Solidariteit is verheug oor die reaksie van werkgewers, kollegas en die gemeenskap wat soveel waarde aan hierdie vroue heg en vir wie dit so belangrik is om ook hul rol as steunpilare in die werkplek nie net te erken nie, maar ook te vereer,” sluit Engelbrecht af.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
