Die Think Pink-projek kikker Pretoria Wes-inwoner se dag op
"Ek het die glad nie verwag nie. Ek kan nie dink dat my verjaarsdag meer spesiaal kon gewees het nie."
Pretoria Wes-inwoner, Bianca van der Merwe, was stomgeslaan nadat Think Pink vir haar ’n verrassingspartytjie op haar 28e verjaarsdag, Woensdag, gehou het.
“Al wat daar vir my gesê is, is Mamma! Ons het ’n groot verrassing vir jou.
“Ek het dit glad nie verwag nie. Ek kan nie dink dat my verjaarsdag meer spesiaal kon gewees het nie.
“Dankie aan al die betrokke mense wat uit hul pad gegaan het om my verjaarsdag te vier, veral die span van Think Pink,” sê Van der Merwe.

Van der Merwe se vriend, Jan Hendrik, en hulle vier kinders het heerlike kolwyntjies en koek geniet.
Stigter van die projek, Edna van Vuuren wat ook by die Hercules GPF betrokke is, het al die reëlings getref.
“Ons het vir die kinders lekkergoedpakkies opgemaak en speelgoed, sowel as skryfbehoeftes ook uitgedeel.
“Ons het vir die gesin toiletware gegee en ’n paar ander items op ’n inkopieslys.”
Van Vuuren het verlede jaar met die inisitatief, Think Pink, vorendag gekom.
“As jy gaan inkopies doen, koop ’n ekstra item wat aan Think Pink geskenk kan word.
“As elkeen net ietsie ekstra bykoop kan dit so groot verskil in ’n vrou en selfs kinders se lewens maak.
Van Vuuren het verlede jaar in Mei-maand ’n oproep van ’n inwoner ontvang wat gevra het of Think Pink nie iets spesiaals vir sy vrou se verjaarsdag kan doen nie.
“Dit is een van baie gesinne wat gedurende die koronavirus baie swaar getrek het.
“Al wat hy op daardie stadium vir sy vrou kon gee, was ’n brood en konfyt.

“Hy het gevra of daar nie enigiets anders is wat hy vir sy vrou kan doen om haar dag op te kikker nie.
“So het ’n paar van ons vriendinne besluit om koek te bak en haar dag spesiaal te maak.
“Sy was so verbaas gewees toe ons by hulle huis opgedaag het.
“Sy het ’n brief geskryf waarin sy ons bedank het vir die moeite wat ons gedoen het.
“Ek self het nie gedink iets so klein soos ’n verjaarsdag-koek kan so ’n groot verskil in iemand se lewe maak nie.”
Van Vuuren het die projek ’n stappie verder gevat waar sy gemeenskapslede nou aanraai om ’n brief te skryf waarin hulle ’n vrou nomineer om sodoende ’n verrassings-partytjie te kry.
“Ons sien uit daarna om nóg briewe te ontvang waar behoeftigde vroue uitgewys word vir wie ons kan bederf.
“Dit is net die lekkerste gevoel om te weet dat iewers het ons vroue ’n verskil in ’n ander gesin se lewe gemaak,” sê Van Vuuren.
Gemeenskapslede wat iemand in gedagte het wie hulle wil nomineer vir die volgende verjaarsdagverrassing, kan hul briewe by die gemeenskapsentrum op die hoek van Duiker en Van der Hoffweg in Magalies Moot aflaai.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
