Tragedie tref Pta-gesin keer op keer
Student (19) is nou mamma en oppasser van 11-jarige sus, na eie ma terminaal siek word en peetouer (40) sterf aan Covid-19.
Dit kan seker nie slegter gaan as die lot wat een gesin van Pretoria getref het nie.
In ’n kort tydperk is ’n enkelma van twee kinders gediagnoseer met ’n terminale kanker en sterf die jongste kind se pa. Boonop, is die kinders se “ander ma” en steunpilaar aan ’n Covid-verwante siekte verlede Maandagaand dood.
Kayla Sharpe (19), wat verlede jaar gematrikuleer het by Hoërskool Pretoria-Noord, is nou Mamma en oppasser vir haar 11-jarige sussie Riana.
Hulle ma, Janine, is met ’n baie aggressiewe servikale kanker gediagnoseer.
Kayla sê die kanker het vroeër die jaar vinnig versprei na ander organe in haar ma se lyf.
“My ma het ’n volle historektomie ondergaan om die kanker te probeer verwyder,” sê Kayla.
“Maar die kanker het ongelukkig verskrei na haar derms.”

Met Janine meer in die hospitaal as by die huis, moes Kayla self na haar jong sussie omsien.
Kayla wat onderwys studeer, werk deeltyds as naskool huisonderwyser. Sy het vir ’n lang tydperk ook haar sussie tuisonderrig gegee.
’n Engel het toe, in die begin van die jaar, haar hart en huis vir die twee kinders oopgemaak.
Miena Avenante het Kayla en Riana ingeneem om saam met haar gesin te bly in Les Marais.
Miena se seun Gawie is Kayla se kêrel, en alhoewel hy nog skoolgaan, sê Kayla ondersteun hy haar ten volle.
“Ek sal vir ewig dankbaar wees vir wat Tannie Miena, Oom Paul en Gawie vir my en my sussie gedoen het.”
Maar die noodlot het weer ander planne gehad vir die gesin.

Verlede Maandagaand (10 Mei) is Miena aan ’n Covid-verwante siekte in ’n hospitaal oorlede.
“Dit was so skielik, ek kan dit nou nog nie glo nie,” vertel Kayla.
“Om 23:00 (Maandag) het Oom Paul ’n oproep gekry van die hospitaal en het hy en Gawie gery.
“Ek het geweet dit kan net een ding beteken, maar ek het steeds gehoop dat Tannie Miena okay gaan wees.”
Miena is sowat twee weke gelede met Covid-19 gediagnoseer.
“Die res van ons het nou ook Covid,” sê Kayla.
“Wat die hele situasie nog slegter maak is dat ’n persoon wat dood is aan Covid, binne vyf dae begrawe moet word.
“Ons is in isolasie en gaan eers ná Tannie Miena begrawe word ’n diens kan hou om afskeid te neem.”
Miena is op die jong ouderdom van 40 oorlede en los haar man, seun en ook nou haar twee peetdogters agter.
Sy is Vrydag, 14 Mei begrawe en ’n roudiens vir die familie vind Maandag, 24 Mei plaas.
Vriende van Kayla het onlangs hul medelye met die gesin gedeel.
“Dis ongelooflik hartseer. Ek weet nie of Tannie Miena ’n mens of ’n engel was nie. Sy was een van die beste, dierbaarste ma’s op aarde,” sê vriendin Sheliezé van Deventer.
Kayla besing die lof van vriende en gemeenskaplede wat die gesin bystaan.
“Ek het my rots Tannie Miena verloor, maar ten minste kry ons so baie liefde en ondersteuning in ons gemeenskap van gelowiges.”
Kayla se ma is onlangs ontslaan uit die hospitaal nadat haar dokters laat weet het dat haar kanker terminaal is.
“My ma kan nie meer bestraling kry nie, want haar lyfie sal dit nie kan hanteer nie.”
Kayla sê haar ma bly baie naby aan die huis waar sy, haar sussie, Gawie en sy pa bly.
“My ma het gelukkig iemand wat haar by die huis versorg.”

Kayla se sussie Riana het in Maart vanjaar ook haar pa verloor.
“Riana se pappa is op 29 Maart oorlede. So jonk soos wat sy (Riana) is dink ek probeer sy ook sterk bly ter wille van ons.”
Deur al die tragedies wat Kayla en haar gesin getref het, bly sy positief.
Haar oud-skoolvriende vertel dat Kayla altyd glimlag en ten spyte van haar lot, ander wat bemoeid is sal probeer opbeur.
Die vriende pleit by hul gemeenskap in die Moot en Noord vir ondersteuning aan Kayla en die Avenante-gesin.
Die gesin kan by 066-090-3235 gekontak word.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
