Local newsNews

Hartseer afskeid van ‘Engelmens’

Elmien (Miena) Avenant (41) laat haar man, seun en die twee peetdogters wat sy ingeneem het na hul eie ma terminaal siek geword het, agter.

Familie en vriende in Pretoria het Maandagoggend met groot hartseer afskeid geneem van Elmien (Miena) Avenant.

Miena (41) is op 10 Mei aan ’n Covid-verwante siekte dood.

’n Klein groepie roubeklaers het Maandagoggend ’n roudiens by die NG Kerk Villieria bygewoon nadat Miena reeds op 14 Mei begrawe is.

Miena, beskryf deur haar geliefdes en vriende as ’n “Engelmens” het saam met haar man Paul en seun Gawie in Les Marais gebly.

In die begin van die jaar het sy haar hart en huis oopgemaak vir twee dogters Kayla (19) en Riana (11) Sharpe, wie se eie mamma nou terminaal siek is.

Kayla het vroeër met Rekord gepraat oor die hartseer en tragiese gebeure wat die familie beleef het binne ’n kort tydperk.

Eers is Kayla se enkelma Janine met ’n aggressiewe servikale kanker gediagnoseer, wat nou terminaal is, toe is sussie Riana se pa in Maart oorlede.

Begin Mei het die dogters se “ander Mamma”, Miena, positief getoets vir Covid-19.

“Dis so skielik. Ek dink ons almal is nog op ‘autopilot’ en doen maar die dinge wat gedoen moet word,” het Kayla kort na Miena se afsterwe aan Rekord gesê.

Kayla, wat vir ’n lang tydperk self na haar jong sussie moes omsien en werk tussen deur haar studies, sê Miena was haar “rots”.

“Ek sal vir ewig dankbaar wees vir wat Tannie Miena, Oom Paul en Gawie vir my en my sussie gedoen het.”

Lees meer:

Tragedie tref Pta-gesin keer op keer

Vriende van die Avenant- en Sharpe-gesinne het hul medelye met die families gedeel.

“Miena was ’n regte engel wat sommer diep in ’n mens se hart ingeklim het. Die paar kere wat ek haar gesien het, het sy my soos ’n familielid gegroet,” vertel Noord-inwoner Riana van Aarde.

Nog vriende het haar as “saggeaard en liefdevol, met ’n deernis vir alle mense” beskryf.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button