Hartseer na Afrikaanse akteur sterf
Boodskappe van hartseer en medelye met “legende” Ben Kruger se familie het op sosiale media ingestroom.
Boodskappe van skok en hartseer na die aankondiging van akteur Ben Kruger se dood, het op sosiale media platforms ingestroom.
Kruger, bekend vir sy rol as Oom Okkie in Binnelanders, is laat Dinsdagaand dood weens Covid-19.
Dit is nog onbekend wanneer hy die virus opgedoen het. Vriendin en mede-aktrise Lizz Meiring het vroeër met Rekord gepraat en gesê dat sy nie bewus was dat Kruger siek was nie.
“Hy was ’n gesonde mens,” het sy gesê.
“Hy sou nie sommer ’n ‘fuss’ gemaak het omdat hy Covid het nie.”
Meiring sê bo en behalwe dat Kruger ’n uitstekende akteur was, was hy ook ’n goeie entrepeneur en kok.
Kruger het op sosiale media platforms, soos Twitter, dikwels sy gunstelingresepte en lekker potjiekos foto’s gedeel.

Sien hier:
The man! En sy kos. pic.twitter.com/6cX8cWdRre
— Ben Kruger (@benakteur) January 29, 2021
Meiring het ook haar gunsteling-herinneringe met die “groot man” met die “sagte hart” gedeel.
“By een van die KKNK’s, toe ek saam met my ma was, het Ben my so ’n stywe druk kom gee – want hy moes net sy ‘girl’ kom groet.”
Die Afrikaanse kultuur en taal bevordering organisasie FAK het hulde gebring aan Kruger en meer oor die akteur en familieman uitgebrei:
“Hy is op 25 Maart 1957 in Bothaville in die Vrystaat gebore; sy pa was ’n pastoor in die Apostoliese Geloofsending-kerk. Hy het aan die Hoërskool Helpmekaar in Johannesburg gematrikuleer en nadat hy 18 maande lank in die Suid-Afrikaanse Vloot was, het hy sy BA-dramagraad aan die Universiteit van Pretoria verwerf.
Ben het sy debuut as rolprent-akteur in Die Voortrekkers in 1973 gemaak, en later was hy te sien in ’n Sondag in September, Dr. Marius Hugo en Pretoria o Pretoria.
Sy eerste rol in ’n televisiereeks was dié van die onderwyser Christo de Wet in Skooldae, en na drie reekse het ’n rolprent, Geel trui vir ’n wenner, daaruit voortgespruit.
Hier het hy teenoor onder meer Dulcie van den Bergh, Theunis van Rooyen, At Botha en Marié du Toit gespeel. Daarna het rolprente soos Wolhaarstories, waarin hy die rol van ’n fopdosser vertolk het, The Fourth Reich, Mandela and De Klerk en Cry the Beloved Country gevolg.
Ander televisiereekse waarin hy gespeel het, was Moeggeploeg, Riemvasmaak, Triptiek, The Game en Zero Tolerance.
In Cry the beloved country en Mandela and De Klerk het hy saam met internasionale akteurs soos Sidney Poitier, James Earl Jones en Michael Caine gewerk. In Mandela and De Klerk het hy die rol van die tronkbewaarder James Gregory, wat later ’n vriend van Mandela geword het, vertolk.
Ben se eerste liefde was egter verhoogwerk.
Hy het aan verskeie produksies van die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK) deelgeneem; hy was betrokke by die laaste paar produksies in die Breytenbach-teater in Sunnyside, Pretoria, en was deel van die opening van die Staatsteater.
Hy was betrokke by ongeveer 50 verhoogproduksies, onder meer Siener in die suburbs, Hamlet, Don Juan onder die Boere, Die Dood van Robey Leibbrandt en Ek, Anna van Wyk.
Hy het ook die komiese eenmanvertoning Tjoklits en Trane geskryf en die hoofrol vertolk, en die musiek uit hierdie vertoning is op CD uitgereik.
Kruger het gewys dat hy ewe tuis in komiese en drama-rolle was. Veral twee sepie-rolle het hom baie gewild en geliefd onder televisiekykers gemaak. Hy het ’n tyd lank die rol van Neef Gert in 7de Laan vertolk, en sy laaste rol was dié van Okkie Ferreira in Binnelanders.
Sy karakter was getroud met Ilse, vertolk deur Hannelie Warren. Hy het in Desember 2020 vir die tweede keer oupa geword.
“Ons innige simpatie aan sy familie en geliefdes,” sê die organisasie.
“Ons sal hom altyd onthou.”

Nog meer bekendes en aanhangers het hul medelye en herinneringe van Kruger op sosiale media gedeel:
– Die Suid-Afrikaanse Legendes Museum skryf: “Hy sal onthou word vir sy onlangse rol as Oom Okkie in Binnelanders en vir sy 1981 hoofrol in Skooldae. Hy was ook Neef Gert in 7de Laan. Ons groet vandag nog ’n groot Afrikaanse legende.”
– Die gospelsanger Min Shaw skryf: “Ai, my liewe ou Bennie. Ek onthou nog goed hoe ek in 1981 teenoor hom gespeel het in die TV-reeks Skooldae. Hy was so passievol oor sy spel. Goeie akteur gewees. Tot ons weer ontmoet.”
– Anton Dekker skryf:“Ag nee jirre BEN nie jy nie! My hart is in stukke, ek kan dit nie glo nie. Ben Kruger, nie alleen was jy ’n moerse akteur nie, maar regtig ’n goeie vriend oor baie jare. Magtag, ek gaan jou verskriklik mis. Rus ou vriend, rus, ons is almal stukkend.”
– Toks van der Linde sê: “My hart is gebreek my groot vriend Ben Kruger akteur gisteraand oorlede aan Covid sjoe gaan jou mis by ateljee champ my trane loop RIV GROOT VRIEND”.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
