Local newsNews

Geboueversekering – wie betaal wat wanneer iets breek?

Virseker werp lig op die mees algemene geboueverwante uitdagings wat verbruikers ondervind, sowel as hoe hulle nare, duur verrassings kan vermy.

Wanneer dit by geboueversekering kom, wie maak daardie stukkende geut, onklaar-hekmotor, teëls wat lig of die skade wat deur vogtigheid veroorsaak is, reg?

Virseker werp lig op die mees algemene geboueverwante uitdagings wat verbruikers ondervind, sowel as hoe hulle nare, duur verrassings kan vermy.

“Daar is min dinge so frustrerend as probleme met geboue, veral wanneer die winter sy ysige greep versterk, of die reënseisoen begin,” sê die woordvoerder van Virseker, Ricardo Coetzee.

“Dis selfs erger wanneer dit jou ’n fortuin kos om te herstel en jy uitvind dat ’n proaktiewe onderhoud – om jou te beskerm teen slytasie – jou kon help om dié krisis geheel en al te vermy,” sê Coetzee.

Virseker se lys van die mees algemene geboueversekerings-eise wat later aan slytasie toegeskryf word, sluit die volgende in:

– Dakke wat lek, insluitend gevalle waar waterdigting verweer of kraak.
– Geute wat geblokkeer word deur plant- en ander materiaal.
– Pype wat lek weens ouderdom en korrosie.
– Hekmotors wat onklaar raak weens ouderdom.
– Teëls wat oplig.
– Stygende vogtigheid.
– Roes.

Coetzee sê dat dit bogenoemde gevalle belangrik is om te onderskei tussen slytasie-items en nie-slytasie-items:

“Enigiets wat oor ’n periode van tyd – eerder as tydens ’n skielike, oonvoorsiene gebeurtenis – plaasvind, kan gesien word as slytasie.

“Nie-slytasie is skade wat veroorsaak word deur dinge soos brande, weerlig, storms, vloede of ’n impak met die gebou. Gevolglike skade sal tipies ’n versekerde gebeurtenis wees, mits dit as ’n versekerde gevaar gelys is.”

Hy wys daarop dat dit belangrik is om te onthou dat versekerde gevare spesifiek in polisbewoording aangeteken word.

’n Polishouer kan slegs eis vir skade wat veroorsaak is deur gevare wat pertinent in die polisbewoording aangedui is.

Virseker wys ander algemene slaggate uit en hoe om hulle te vermy:

– Verseker dit teen die volle vervangingswaarde: Maak absoluut seker dat jy jou eiendom teen die volle vervangingswaarde verseker. Hele gebouvervanging, sowel as kleiner eise se uitbetalings, word bereken volgens die persentasie van die volle waarde waarvoor jy ’n premie betaal. So, wanneer jy slegs ’n gebou vir ’n persentasie van sy volle waarde verseker, betaal jy slegs ’n persentasie van die premie wat jy eintlik opsy behoort te sit. Gevolglik sal slegs ’n persentasie van die hoeveelheid wat jy eis uitbetaal word. Dis standaardpraktyk vir meeste, indien nie alle, versekeraars.

– Slim kosteberekening: Daar is verskeie maniere om geboue se vervangingskoste akkuraat te bereken. Gaan jou huisleningstate na, vra eiendomsagente en leningskenners of gebruik aanlyn berekeningsplatforms op betroubare eiendomswebtuistes. Neem die totale koste in ag om ’n gebou van die grond af op te bou – argitekte, ingenieurs, sloping, afvalverwydering, boumateriaal, loodgieterswerk, elektriese werk, ens.

– Huidige waarde: Dis noodsaaklik om seker te maak dat jou eiendom se waarde op datum bly. Die versekerde hoeveelheid mag dalk jaar na ’n jaar verhoog, in ooreenstemming met inflasie, vir albei geboue en huisinhoud, maar opgraderings, veranderinge en opknappingswerk, wat ’n impak op die waarde kan hê, word nie in ag geneem nie. Wanneer jy jou polis se hernuwingsdokumente ontvang, spandeer ’n paar minute om te dink aan veranderinge wat jy aangebring het en oorweeg om die polis op te dateer.

– Kyk verby die groot goed: Sommige mense verseker net die hoë-risiko items wat tipies tydens ’n inbraak gesteel sal word, maar dink nie aan wat sou gebeur indien ’n huis heeltemal verwoes word soos in die geval van ’n brand nie. Om alles teen vandag se pryse te vervang, kan aansienlike kostes beloop, so dis ’n móét om deeglik te oorweeg.

– Lees die fynskrif: Moenie aanvaar dat alles gedek word deur jou versekering nie. Neem die tyd om die dokumentasie deeglik deur te lees en die bepalings en voorwaardes van jou dekking deeglik te verstaan. Weet waarvoor jy gedek is, en wat uitgesluit word, in jou spesifieke polis.

– Ken die proses: Sodra ’n eis geregistreer is en ’n verskaffer uitgestuur is om ’n aanvanklike skadeverslag te doen, sal ’n spesialis-kontrakteur tipies uitgestuur word om ’n verdere skadeverslag te doen en ’n kwotasie saam te stel.

– Voorkoming is beter as genesing: Laat jou eiendom gereëld nagaan, of gaan dit self na, om seker te maak dat die dak, geute, ondersteuningstrukture, pype, bedrading, ens. in ’n goeie toestand is, verder as net op gesigswaarde. Dis veral belangrik met die verandering van seisoene. Doen die nodige voorkomende onderhoud om duur skade te vermy.

“As jy onseker is oor enige van die punte wat hier uitgelig is, sal dit wys wees om jou versekeraar dringend te kontak en duidelikheid te kry,” noem Coetzee.

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button