Pta orrelis speel nog vingers én voete saam na 50 jaar
’n Doktor in musiek, Riaan Steyn, het onlangs sy 50e jaar as orrelis gevier by die Hervormde Kerk Bronkhorstspruit met ’n musiekuitvoering op die kerk se 50-jarige ou orrel.
Voormalige departementshoof van die Kunste Akademie aan Pro Arte Alphenpark en huidige programbestuurder by Pretoria Eisteddfod, Riaan Steyn, vier sy 50e jaar as orrelis.
Riaan (63) het Dinsdagmiddag met Rekord gepraat oor sy liefde vir musiek en natuurlik sy gunsteling instrument – die orrel.
“Ek was van kleins af gefassineerd met die orrel. Die feit dat ’n mens met jou voete ook kan musiek maak het my nuuskierigheid geprikkel.”

Riaan verduidelik dat ’n orrel, baie anders as ’n klavier, verskeie voetpedale het en dit verg goeie konsentrasie om met beide hande en voete dié instument te speel.
“Destyds was die orrelis nie so sigbaar in die kerk soos deesdae nie, want die orrel se speeltafel was meestal iewers op ’n galery geplaas.”
Jong Riaan het vinnig geleer orrel speel en op 13-jarige ouderdom (1971) het hy sy eerste orrelpos aanvaar by NG Boksburg-Wes.
Sedertdien was hy orrelis in verskeie groot gemeentes in Pretoria:
– NG Arcadia vir twee jaar.
– NG Skuilkrans vir 14 jaar.
– Hervormde kerk Wapadrant vir vier jaar.
– NG Lynnwood vir 17 jaar.
Hy het in die begin van die jaar aangesluit as orellis by die Hervormde Kerk Bronkhorstspruit.
“Die orrel in die kerk is 50 jaar oud die jaar en toevallig vier ek ook my 50e jaar as orrelis,” sê Riaan.

Om dié spesiale herdenking te vier het die Hervormde Kerk Bronkhorstspruit-gemeenskap op Sondag 30 Mei ’n feesviering in die vorm van ’n orreluitvoering gehad.
Riaan en die twee vorige orreliste van die kerk, Petro Olivier en Wilma Pretorius het die uitvoering behartig.
Riaan sê hy wou nooit iets anders doen as musiek maak en orrel speel nie.
“Dit is werklik my eerste liefde en grootste passie.”
Ná sy voorgraadse studies aan UP, verwerf hy ’n Onderwyslisensiaat, asook ’n Voordraerslisensiaat met lof aan UNISA.
“Gedurende 1984 tot 1985 het ek die voorreg gehad om te studeer by die wêreldberoemde Franse orreliste, Mariè-Claire Alain in Parys,” vertel Riaan.
Hiér het hy ’n eerste prys in sy afdeling aan die Konservatorium ontvang.
’n Interessante staaltjie, wat Riaan met Rekord gedeel het, is dat hy vir die tydperk in Frankryk ’n korrespondent was vir Suid-Afrikaanse media.
“Dit was ’n moeilike tydperk, veral in die politiek. Ek het vinnig geleer hoe stresvol spertye kan word en sal nie vinnig vergeet van my frustrasies met die ou betaal fone wat ons destyds gebruik het om oorsee te kommunikeer nie.”
Met Riaan se terugkeer na SA, voltooi hy ’n Mmus-graad (Uitvoerende Kuns) cum laude aan die NMMU (voorheen UPE).

In 2009 promoveer hy met ’n DMus-graad in Uitvoerende Kuns aan UP.
Riaan het bekendheid verwerf met orreluitvoerings in die meeste groot sentra in SA en Namibië en hy is ’n gesogte begeleier van verskeie bekende kore, instrumentaliste en ensembles.
Hy het ook heelwat solo-opnames vir die SABC gemaak, onder andere vir die radioprogramme ‘Die Orrelis’, ‘Debuut’ en ‘Alle volke loof die Here’.
Vir 27 jaar was hy verbonde aan Pro Arte Alphenpark as departementshoof van die Kunste Akademie.
Riaan is tans by die Eisteddfod in Pretoria betrokke.
“Die Eisteddfod moes verlede jaar gekanselleer word, maar ons gaan voort die jaar – al is dit nou wel alles aanlyn,” sê Riaan.
“Die Eisteddfod is die ideale geleentheid vir jongmense om, soos ek, hul passie te ontdek en uit te lewe.”
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
