Erfenisstigting ontvang waardevolle boekskenking
“Meer as 2 000 boeke word in dié kultuurargief gehuisves en as jy mooi luister, kan jy die eggo van die Afrikanergeskiedenis hoor as jy tussen die boekrakke loop.”
Die Erfenisstigting, geleë by die Voortrekkermonument, is die trotse eienaar van ’n nuwe stel boeke, waarvan een meer as ’n eeu oud is.
Dié boek, Leesboek voor Zuid-Afrika, is onlangs deur die Onderwysmuseum aan die Erfenisstigting geskenk en word tans by dié stigting se biblioteek onder die Erfenissentrum uitgestal, vertel Gerhard Pretorius, kommunikasiebestuurder van die monument en Erfenissentrum.
“Hubertus Elffers is die skrywer van die Leesboek voor Zuid-Afrika, wat in 1899 gepubliseer is. Lede van die publiek kan nou deur dié skatkis kom blaai.
“Die biblioteek is in 2004 by die Erfenissentrum op die Voortrekkermonumentterrein geopen.”
Volgens Pretorius word skenkings van boeke verwelkom, maar mense word versoek om ’n lys van die boeke te stuur sodat dit behoorlik bewaar kan word.
“Meer as 2 000 boeke word in dié kultuurargief gehuisves en as jy mooi luister, kan jy die eggo van die Afrikanergeskiedenis hoor as jy tussen die boekrakke loop.”
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Erfenisstigting, het gesê die biblioteek bevat hoofsaaklik leesstof oor die kuns, taal, geskiedenis en politiek van die Afrikaner.
“As jy wil lees oor die Groot Trek, Anglo-Boereoorlog, die Slag van Bloedrivier en nog vele ander geskiedkundige gebeurtenisse oor die Afrikanervolk, is daar min plekke wat jy kan besoek soos die Erfenisstigting se biblioteek.
“Ons het gesien hoe ’n verwoestende brand in die Wes-Kaap onlangs die hele biblioteek by die Universiteit van Kaapstad in as, gelaat het. Dit is hoekom dit so belangrik vir ons is om ons kultuurgeskiedenis by dié biblioteek te beskerm en te bewaar.”
Die biblioteek is oop vir die publiek van Maandag tot Vrydag van 9:00 tot 15:00.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
