Só lyk splinternuwe sypaadjie-wenner van die maand se trofee
"'n Groot rede waarom ons besluit het om 'n wisseltrofee nou elke tweede week oor te handig, is omdat die belangstelling al hoe groter geraak het."
Sedert die begin van die jaar het die organiseerders van die sypaadjie-kompetisie geswoeg en gesweet om nóg ’n wisseltrofee te oorhandig.
Karien Serfontein en haar werker, met die besem in sy hand, Piet Lekoloane is in hul noppies met die ontvanging van die splinternuwe trofee.
Caprra-voorsitter Mike Burt en Donne-li Johnson van die Real One Real Estate-agentskap het Saterdag by die Serfontein se huis aangeklop om die trofee te oorhandig.
Serfontein sê dat sy geensins gedink het dat die trofee na soveel maande voor haar erf sal staan nie.
“Genade! Regtig? Ons erf? Ek het glad nie die nuus verwag nie,” sê Serfontein.
Sy noem dat Piet al meer as 10 jaar as tuinier by haar werk.
“Nes ek, is Piet mal oor tuinwerk.
“Hy is ’n staatmaker en ’n hardwerkende man.
“Sonder hom, sou ons gesukkel het om ons tuin op ’n konstante basis netjies en in toom te hou.”
Serfontein lê nie op haar louere wanneer dit by die instandhouding van haar sypaadjie kom nie.
“Elke inwoner moet verantwoordelikheid vir hulle eie sypaadjie neem en met inisiatiewe vorendag kom om dit reg te kry.
“Tuinmaak is terapeuties en dit is bevredigend om erkenning vir harde werk te kry.
“Jy moet tog trots wees op dit wat jy insit. ’n Huis is waar jou hart lê.”
Sy noem ook dat hulle nog nooit vantevore ’n kompetisie gewen het nie.
“Ek en my man vergeet elke keer om ’n lotto-kaartjie te kry, maar anders as dit het ons nog nooit iets gewen nie,” skerts sy.
Burt sê dat hy inwoners van Capital Park wil aanmoedig om hul sypaadjies te onderhou.
“Inwoners sal nie net trots wees op hul omgewing nie, maar dit sal ook ’n wonderlike verbetering vir die gebied wees.
“’n Groot rede waarom ons besluit het om ’n wisseltrofee nou elke tweede week oor te handig, is omdat die belangstelling al hoe groter geraak het.
“Al hoe meer inwoners wil betrokke raak en hoop om binnekort die trofee voor hulle erf te hê,” sê Burt.
Johnson ry gedurig in die omgewing rond op soek na die volgende wenner.
“Ek ry deur die woonbuurt en kyk watter eiendomme se sypaadjie uitstaan.
“Dit is so lekker om daardie opgewondenheid in iemand se stem te hoor as ek hulle inlig oor die wenner wat aangewys gaan word,” sê sy.
Inwoners van Capital Park wat graag wil sien hoe dit gedoen word, kan ’n draai by Malherbestraat 263 gaan maak.
Die sypaadjie van die maand-kompetisie is die breinkind van die Capital Park Residents and Ratepayers’ Association (Caprra).
Die eerste wenner van dié gesogte kompetisie is op 1 Mei 2018 aangekondig.
Soos die tyd verloop het, het Real One Real Estate agentskap, mede-organiseerder, ook aanboord gekom.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
