Blinde oom se 100ste-verjaarsdag ‘n geskiedkundige mylpaal
Hennie Grobler vertel dat sy lewensverhaal nie altyd sonskyn en rose was nie.
Neli Rose-ouetehuis het ’n geskiedkundige dag in die boeke vasgepen met dié dat een van hulle inwoners ’n 100 jaar oud geword het.
’n Blinde oom van die tehuis, Hennie Grobler, het Saterdag ’n eeu se lewe saam met vriende en familie gevier.
Rekord het Maandag ’n draai by hom gemaak om oor sy lewe te gesels.
“Oe! Ons het lekker makietie by die tehuis gehad en die volgende dag het my kinders my kom haal waar ons tyd saam met familie en vriende spandeer het. Dit was heerlike feesvieringe gewees.”
Dié oom het sowat vier jaar terug sy sig verloor.
“Ek was spekvet en gesond gewees. Ek het in die tuin rond geloop en toe skielik voel ek iets snaaks gebeur met my en net daar is my sig weg. Ek het duiselig gevoel en na die derde dag was ek heeltemal blind.
“Die dokter noem dat die senuwees in my brein aangetas is.
“Dit was ’n reuse aanpassing gewees.
“Die vraag waarom dit nou met my gebeur het, het in my kop gemaal.
“Ek het ’n ander lewe gelei as wat ek geken het.”

Hy het vier jaar gelede by die tehuis aangekom en die hartverskeurende deel daarvan is dat hy nooit sal sien waar hy tans tuisgaan nie.
Hy vertel verder dat sy lewensverhaal nie altyd sonskyn en rose was nie.
“As ’n jong laaitie het ek in die stad grootgeword.
“My ouers was nie wel af nie en daarom kon ek nie matrieksertifikaat agter my naam kry nie. Ek moes inderhaas ’n werkie kry om ’n paar rand te verdien,” vertel hy.
Hy lag toe een van die susters by die tehuis sê dat hy meer van sy girlfriends moet vertel, maar hy het net sy oë op een meisie gehad, Aletta.
“Sy is op 10 Oktober 2015 oorlede. Sy was ’n diabeet-leier.
“Ek is sedertien baie eensaam, maar ek gesels graag met die ander inwoners in die tehuis.”
Oom Hennie is op 2 September 1949 met Aletta voor die magistraat getroud.
“Op ons wittebrood dae, het ons ’n karavaan aangekoop waarmee ons die Kaap plat getoer het.”
Die goedhartige oom met sy saggeaarde gesindheid, is ’n gebore en getoë East-Lynn-area inwoner.
Die twee het mekaar in ’n groentewinkel in die area ontmoet.
“Ek kan haar gesiggie tot vandag nog onthou. Met haar pragtige lang blonde lokke en blou oë – sy was ’n pragtige vrou gewees.
“Ek was ’n verwer gewees en Alet was ’n verpleegster.
“My hande het vir niks verkeerd gestaan nie.”
Oom Hennie sê dat as die Here besluit om hom te kom haal, dat hy reg is om hemel toe te gaan.
“Die Here was goed vir my gewees. Ek dink baie oor my lewe, en daar was soveel goeie herinneringe gewees.”
Die Groblers het ses kinders, waarvan twee oorlede is.
Hulle is ook geseën met 11 kleinkinders en ses agterkleinkinders.
“Die verpleegpersoneel is goed vir my en kyk so mooi na my, maar die eensaamheid vat aan my,” sê Hennie.

Rodwell Kwonglee en sy vrou, Beverley, het 11 jaar terug dié aftree-oord begin.
Met dié dat oom Hennie ’n groot mypaal hier behaal het, het die twee besluit dat Grobler van nou af verniet by hulle kan tuisgaan.
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
