Local newsNews

Lewe na Krugersdorp-moorde

Joernalis Mariska Coetzer praat oor lewe na die Krugersdorpmoorde-ondersoek, haar kontroversiële verhouding, tweede boek en liefde vir die Jakarandastad.

Daar is lewe in Pretoria.

Dít die stelling van ’n joernalis wat berugtheid verwerf het vir haar kontroversiële verhouding met een van die rolspelers in die Krugersdorp-moorde saak.

Marizka Coetzer het met Rekord gepraat oor haar lief en leed die afgelope vyf jaar, die opvolg van haar boek Uitgewerp en haar lewe ná Krugersdorp.

Showmax se eerste oorspronklike ware misdaaddokument-reeks Devilsdorp ondersoek die wrede moorde wat Krugersdorp tussen 2011 en 2016 aangegryp het. Marizka was toe ’n joernalis by die plaaslike koerant in die dorp toe sy in 2016 oor dié saak begin berig het.

“Ek het ’n groot deel van my lewe en loopbaan in die ondersoek ingesit,” sê Marizka.

“Maar ek is bly dis verby, ’n mens kan ook net soveel mal goed hanteer.”

Marizka sê sy dink nie mense sal ooit meer antwoorde kry oor die berugte baasbrein agter die Krugersdorp-moorde, Cecilia Steyn, nie.

Die wrede sataniese kult en moorde van 11 mense bly vreemder as fiksie, en die saak word weer nuut oopgevlek in die Devilsdorp-reeks.

Marizka het egter dié vyf jaar lange hoofstuk van haar lewe afgesluit.

“My lewe na Krugersdorp is Pretoria.”

Vir twee en ’n halwe jaar is sy reeds ’n inwoner van Pretoria.

“Wat my baie opgewonde maak is wanneer die bloeisels in die bome hul verskyning maak – die hele stad toegevou in pienk, pers en wit. Wanneer daai bloeisels uitkom dan voel ek weer lewendig. Ek het die stowwerige Krugersdorp agter my gelaat en so ook my verlede.”

Marizka sê sy is versot verlief op die Jakaranda-stad.

“My dogtertjie is gelukkig in haar skool, ek het nuwe liefde, en tot my gunsteling SPAR hier gevind,” sê Marizka laggend.

Sy het kortliks oor haar nuwe verhouding met ’n Pretoriase man gepraat: “Hy is Afrikaans, windgat en vol liefde.”

Een ding van Marizka wat onveranderd bly, is haar liefde vir nuus.

“Ek is n nuushond van natuur. Altyd nuuskierig om meer te weet,” sê dié opgewekte verslaggewer.

Dis hierdie passie van haar, wat haar ook ingetrek het by die Krugersdorp-moorde saak en die begin van ’n baie kontroversiële verhouding met Le Roux Steyn.

Haar verhouding met Le Roux, een van die ses mense betrokke by die moorde, het baie kritiek ontlok.

Soos die fiktiewe karakters: ‘Joker’ en ‘Harley Quinn’, is Marizka ook gesien as die “mal” jong vrou wat haar hart verloor het op die moordenaar.

“Só ’n verhouding is ‘cool’ op die grootskerm, maar nie in die regte lewe nie,” sê Marizka en haar altyd-glimlag verdwyn.

“Ek het vir jare die baadjie gedra van ‘moordenaar se girlfriend – bly weg’. Dit het gevoel of ek melaats was.

“Mense het gesê ek is mal en daar was tye wat ek hulle geglo het.”

Marizka sê die Devilsdorp-reeks het egter haar die geleentheid gegee om vir eens en altyd haar hart oop te maak en regtig te verduidelik waarom sy die verhouding met Le Roux gehad het.

“Bittermin mense kry dit reg om nie ander te veroordeel nie… om die boemelaar op straat en die tronkvoël as gewone mense te sien en sonder oordeel te hanteer,” verduidelik sy.

“Mense is bang vir dit wat hulle nie verstaan nie. Die Krugersdorp-moorde saak is groot en ‘scary’, Le Roux as moordenaar is vir mense ‘scary’ en dis makliker om hom te oordeel as te verstaan.”

Vir Marizka wat nog altyd almal onder dieselfde kam geskeer het, was dit maklik om Le Roux as ’n gewone man en nie ’n tronkvoël te sien nie.

Sy en Le Roux is voor die maak van die reeks uit mekaar uit en beide is in ander verhoudings.

“Ek kon hom nie meer dra nie, ek kon hom nie ondersteun terwyl ek my eie lewe aan die buitekant moes lewe nie.

Marizka sê sy sal altyd nog ’n sagte plekkie hê vir Le Roux. Sy hou vas aan die aandenkings (momentos) en klein handgekerfde beeldjies wat hy vir haar uit die tronk gestuur het.

Sy is van plan om meer oor die verhouding in haar opvolgboek Awaken te skryf.

Die boek, wat sy beplan om teen einde van die jaar klaar te skryf, gaan nog meer inligting oor die Krugersdorp-moorde bevat.

“Ek het onlangs ’n lêer ontdek met inligting oor die saak wat ek nog met niemand gedeel het nie,” sê sy.

“Inligting waaroor niemand al geskryf het nie, soos dinge wat Cecilia se ouers vir my in ’n onderhoud vertel het, en wat haar suster oor haar uitgelaat het.

“Ek wil graag die boek klaar maak om dié hoofstuk van my lewe mooi af te sluit.”

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button