Invloedryke vroue gesels met skoolmeisies van Laerskool Pierneef
"Tydens ons praatjies gesels ons met dogters oor selfvertroue, vroulikheid, persoonlike higiëne en ook alle vorme van afknouery en hoe om dit te oorkom."
Laerskool Pierneef het op Woensdag, 3 November ’n bederfdag gehad waar twee invloedryke vroue met die graad 4 tot 7-skoolmeisies kom praat het oor wat dit beteken om vrou te wees.
Voormalige mode-redakteur van Bella-tyfskrif Adré Müller en aktrise Mia-Anne O’Kennedy het ook vir elkeen ’n bederfpakkie uitgedeel.
Müller en O’Kennedy se harte lê by meisies en tieners om hulle bewus te maak van finesse en higiëne asook hoe om die vrou te wees soos God hulle geskape het.
“Kyk na jou innerlike mooiwees en straal dit na buite toe uit.
“Tydens ons praatjies gesels ons met dogters oor selfvertroue, vroulikheid, persoonlike higiëne en ook alle vorme van afknouery en hoe om dit te oorkom,” vertel O’Kennedy.

Müller noem dat as jong meisie, sy baie sensitief was oor enige vorm van afknouery en verwyt haarself dat sy nooit as tiener daarteen kon opstaan nie.
“Die Here het al ’n geruime tyd my bewus gemaak dat ek by skole oor hierdie onderwerp moet gesels, maar dat Hy die deur op die regte tyd sal oopmaak.
“Uiteindelik het daardie deur oopgegaan met woorde wat Hy op my hart geplaas het,” vertel sy.
“Ek het ’n hart vir kinders en my bediening lê beslis daarby om kinders en tieners te laat verstaan dat hulle perfek in God se beeld geskape is en dat hulle geliefd is,” sê sy.
Müller, wat ’n graad in BA Drama het, sê dat kinders swaarkry en toegerus moet word met die regte persoonlike en geestelike gereedskap om die lewe aan te pak. Hulle moet leer om hulself te aanvaar en so dan die beste weergawe van hulself uit te straal.
O’Kennedy, bekend vir haar rolle in Somerson, Suiderkruis, Rowwe Diamante en as Vanessa in Getroud met Rugby, het ’n passie vir vrouwees en om vir meisies dit duidelik te maak dat om vrou te word, mooi is.
“Al is dit in die begin moeilik en nie altyd lekker nie, onthou dat die Here ons geskape het om die beste weergawe van onsself te wees en om die mooi daarvan raak te sien en dit te geniet.”
Die twee werk onder die naam, “Be a Babe” om sekere asptekte onder die meisies se aandag te bring.
“Beeldskoon, aandag, beste vriendin en eienskappe van vrou- en vriendin-wees is waarna elkeen van ons streef.
“Dit was °n wonderlike voorreg om by Pierneef te kuier en met hulle pragtige dogters die oggend te kon spandeer.
“Die skool het met die inisiatief vorendag gekom om vir elke meisie ’n bederfpakkie uit te deel.
“Ons was bevoorreg om ’n paar borge bymekaar te kry om die sakkies te vul.
“’n Totaal van 200 pakke sanitêre doekies is geborg en die ouers en personeel het ook hand bygesit om die oggend ’n reusesukses te maak.”
Die skoolmeisies het na afloop van die praatjie baie vrae gevra.
“Hulle was aktief betrokke en dit is presies die uiteinde waarvoor ons gehoop het.
“Ons het net weereens opnuut besef hoe graag dogters oor die onderwerp van vrouword wil leer en hoeveel vrae daar buite is.”
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
