Passievolle handewerker vier haar 100e verjaarsdag
Dogter, Carina Rabie, beskryf haar ma as 'n veelsydige huisvrou wie se hande vir niks verkeerd staan nie.
“Vind iets mooi en goed om met jou hande te doen, en doen dit met passie.”
Dít is Lina van Rensburg van Ons Tuis-aftreeoord in Riviera se geheim om die groot mylpaal van 100 jaar oud te word.
Dié deftige dame het op 21 Desember haar verjaarsdag saam met haar naaste familie en vriende by die oord, asook haar seun Hennie – wat ook ’n inwoner by Ons Tuis is – gevier.
Volgens die boorling van Ventersdorp, het die meetsnoere vir haar in lieflike plekke geval.
Susanna Magdalena Scheffer het haar gelukkige kinderjare, as die oudste van drie sussies, op ’n plaas in dié distrik deurgebring.
“Ons het elke dag sowat drie myl met ’n perdekar na ’n klein plaasskooltjie gery waar my oom die skoolhoof was.
“My ouers het die algemene handelaarswinkel, Schefferspos, bedryf waar poskoetse gereeld aangedoen het.
“My pa was ook ’n uithaler boer wat in 1958 as senator tot die volksraad van die Unie van Suid-Afrika verkies is,” vertel sy.
Van Rensburg het aan die Hoërskool Ventersdorp matrikuleer, waarna sy as huishoudkundige aan die Pretoriase Tegniese kollege gekwalifiseer het.
Op haar 19e verjaarsdag het sy die knoop met Willie van Rensburg (hulle het tydens ’n piekniek op die naburige plaas ontmoet) vanuit die Nederduits Hervormde Kerk op Ventersdorp deurgehak.
Die egpaar het hulself in die Ventersdorp-distrik gevestig en ’n gemengde boerdery op die plaas Arbeidsgenot, sowat twee myl van haar geboorteplaas, bestuur.
Uit die huwelik het hulle ’n seun en twee dogters gehad.
In 1965 verhuis die Van Rensburgs na Pretoria waar hulle ’n veel kleiner boerdery bedryf het.
Haar dogter, Carina Rabie, beskryf haar ma as ’n veelsydige huisvrou wie se hande vir niks verkeerd staan nie.
“Sy was lid van die Transvaalse Landbou-Unie en vir 25 jaar die voorsitter van die Byekorftak.
“In dié tyd het sy ook as sameroeper van die verversingskomitee van die Ventersdorpskou opgetree,” sê Rabie.
Sy sê haar ma se toegewydheid en strewe om enige projek wat sy aanpak perfek af te handel, het haar vir baie jare ’n gewaardeerde beoordelaar vir gebak, preservering en naaldwerk by talle plattelandse skoue gemaak.
“Sy het onder andere ook haar knopie, vir 20 jaar dienslewering aan die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie verwerf,” sê Rabie.
Na haar man se afsterwe in 1975 verhuis sy na die Jakarandastad en word ’n vurige Blou Bul-ondersteuner.
Sy onderneem ook verskeie toere na die buiteland waar sy hegte vrienskappe met mede-toerlede sluit.
“Om deur hierdie moeilike tyd in haar lewe te kon werk, het my ma ook haar liefde vir kunsnaaldwerk hervat. Sy borduur ’n hele paar pragstukke wat ure se deursettingsvermoë vra. Iets kosbaars vir haar nageslag,” sê Rabie.
Video:
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram