CenturionLocal newsNewsSchools

Hoërskool Centurion matrieks behaal 148 onderskeidings

Hoërskool Centurion se matriekgroep van 2021 het ‘n indrukwekkende 148 onderskeidings ingeryg.

Hoërskool Centurion kan verder ook spog met die feit dat 100% van hul matrieks van 2021 toelating het om aan ’n tersiêre instansie te kan studeer. Die volgende leerders het elk agt onderskeidings behaal: Tessa Engelbrecht, Corné Botha en die toppresteerder van 2021, Leandri Erasmus.

Hoërskool Centurion het al vanaf 1958 ’n onmisbare bydrae in die opvoeding en ontwikkeling van leerders gelewer en sien uit om te sien hoe hul matriekgroep van 2021 verder op hierdie stewige fondament voortbou. 

Ons het met die volgende 2021-matrikulante gesels:

Leandri Erasmus Wat is jou planne of doelwitte vir na skool?

“Ek wil graag medies aan UFS of SMU studeer.”

Het jy raad vir die matrieks van 2022?

“Moenie vergeet om jou ‘support system’ te waardeer nie! Soveel mense bid vir jou en hoop dat al jou drome waar word.

Moet ook nie na negatiwiteit luister nie. As jy ’n droom het, jaag dit na. Net jy staan in die pad van jou toekoms.”

Hoe het Hoërskool Centurion jou gehelp om jou loopbaandoelwitte te bereik?

“Deurdat onderwysers oortyd gewerk het om seker te maak ons is reg en het selfvertroue vir ons toetse en vraestelle.

Dit laat jou voel jy is waardevol vir jou skool en dit motiveer jou om nog harder te werk.”

Wat was jou gunsteling-aspek van Hoërskool Centurion?

“Juffrou Jacobs en juffrou Kruger se passie en omgee vir my!”  

 

Tessa Engelbrecht Wat is jou planne of doelwitte vir na skool?

“Ek gaan Rekenaarwetenskap aan Tuks studeer.”

Het jy raad vir die matrieks van 2022?

“Moenie probeer om hierdie jaar alleen aan te pak nie, haak by mekaar in en doen dit saam.”

Hoe het Hoërskool Centurion jou gehelp om jou loopbaandoelwitte te bereik?

“Die skool het vir my ’n veilige spasie geskep waar ek myself kan wees en waar ek met vrymoedigheid my passie kon vind.”

Wat was jou gunsteling-aspek van Hoërskool Centurion?

“Die feit dat ons, ten spyte daarvan dat ons ’n klein skool is, teen groter skole kon kompeteer en altyd kon streef om hoër hoogtes te bereik.”  

 

Corné Botha Wat is jou planne of doelwitte vir na skool?

“Ek gaan BCom Rek aan Tukkies studeer en ’n CA word.”

Het jy raad vir die matrieks van 2022?

“Werk altyd hard en geniet elke oomblik.”

Hoe het Hoërskool Centurion jou gehelp om jou loopbaandoelwitte te bereik?

“Hoërskool Centurion het my geleer om nooit op te gee nie en my altyd gedryf om alles in my vermoë te doen om my doelwitte te bereik.”

Wat was jou gunsteling-aspek van Hoërskool Centurion?

“My gunsteling-aspek van die skool was die onderwysers wat altyd bereid was om ekstra moeite in te sit.”  

 

Alain Willemse Wat is jou planne of doelwitte vir na skool?

“Ek gaan Aktuariële Wetenskap aan Tuks studeer.”

Het jy raad vir die matrieks van 2022?

“My raad vir die matrieks van 2022 is om elke dag ’n bietjie te doen en nie werk te los tot die laaste oomblik nie.”

Hoe het Hoërskool Centurion jou gehelp om jou loopbaandoelwitte te bereik?

“Hoërskool Centurion is waar ek my talent vir Wiskunde en passie vir statistiek ontdek het.”

Wat was jou gunsteling-aspek van Hoërskool Centurion?

“Hoërskool Centurion het briljante onderwysers wat aanhoudend uit hul pad gegaan het om te verseker dat ek en ander leerders ons volle potensiaal kon bereik.”  

 

Andreas Badenhorst Wat is jou planne of doelwitte vir naskool?

“Ek gaan medies (MBCHB) aan die Universiteit van KwaZulu-Natal studeer.”

Het jy raad vir die matrieks van 2022?

“Êrens deur die jaar gaan die werk vir jou te veel word en jy gaan wil opgee, maar druk deur, al jou opoffering sal die moeite werd voel wanneer jy jou matrieksertifikaat aan die begin van 2023 kry.”

Hoe het Hoërskool Centurion jou gehelp om jou loopbaandoelwitte te bereik?

“As dit nie was vir die skool se onderwysers nie, sou ek nie onderskeidings kon kry in my swakste vakke nie en sou dit nie moontlik wees vir my om keuring te kry vir die rigting waarin ek wil gaan studeer nie.”

Wat was jou gunsteling-aspek van Hoërskool Centurion?

“Hoërskool Centurion is nie net ’n skool wat op akademie gefokus is nie, maar ook op sport en kultuur en laat elke leerder toe om sy talente te beoefen wat aan hom toegeken is.”  

 

Marcus Brandt Wat is jou planne of doelwitte vir na skool?

“Ek gaan BCom Rek aan Tuks studeer.”

Het jy raad vir die matrieks van 2022?

“Geniet elke oomblik en moenie ’n draadsitter wees nie.”

Hoe het Hoërskool Centurion jou gehelp om jou loopbaandoelwitte te bereik?

“Hoërskool Centurion het dit vir my moontlik gemaak om een stap nader aan my droom te kom. ’n Mens kan ook nie vir beter onderwysers vra as wat Hoërskool Centurion het nie.”

Wat was jou gunsteling-aspek van Hoërskool Centurion?

“Hoërskool Centurion is ’n redelike klein skool in vergelyking met ander skole. Dit gee elke leerder ’n kans om hul plekkie onder die son te kry.”  

 

Armandt Grundlingh Wat is jou planne of doelwitte vir na skool?

“Ek gaan Australië toe om BCom Regte te studeer.”

Het jy raad vir die matrieks van 2022?

“Geniet skool en jou vriende en maak tyd vir pret. Moenie net heeltyd leer en almal om jou afskeep nie.”

Hoe het Hoërskool Centurion jou gehelp om jou loopbaandoelwitte te bereik?

’n Goeie ondersteuningstelsel by die skool en die klein familieskool het my geleer hoe om myself te wees en nie by ’n groot groep te probeer inpas nie.”

Wat was jou gunsteling-aspek van Hoërskool Centurion?

“Die sport tydens my skoolloopbaan.”  

 

Charlise Meiring Wat is jou planne of doelwitte vir na skool?

“Ek gaan nou LLB Regte aan die Universiteit van Johannesburg studeer.”

Het jy raad vir die matrieks van 2022?

“Werk hard, geniet jou jaar en doen jou bes, want dit is al wat saak maak.”

Hoe het Hoërskool Centurion jou gehelp om jou loopbaandoelwitte te bereik?

“Hoërskool Centurion was die plek waar ek uitgevind het wat my roeping is. As dit nie vir van die fantastiese onderwysers daar was nie, sou ek tot nou toe nie geweet het wat om met my toekoms te maak nie.”

Wat was jou gunsteling-aspek van Hoërskool Centurion?

“Al die herinneringe wat ek daar met my vriende gemaak het en die ware gevoel van familie wat die skool het.”  

 

Daniel Langner (Nel) Wat is jou planne of doelwitte vir na skool?

“Ek wil daarna streef om ’n balans tussen my studies en lewe te handhaaf en om my talente te bevorder.

Ek sal graag my analitiese-, argumenterings-, navorsings- en skryfvaardighede wil verbeter, asook om twee addisionele tale te leer (Frans en Arabies) om sodoende vir ’n internasionale beroep aansoek te kan doen.”

Het jy raad vir die matrieks van 2022?

“Daar is geen beter raad as ervaring nie. Ek hoop die woorde is vanselfsprekend genoeg om enigiemand uit te daag om te eksperimenteer en te leer uit eerstehandse ervaringe en nie dít wat iemand anders oorvertel nie.”

Hoe het Hoërskool Centurion jou gehelp om jou loopbaandoelwitte te bereik?

“Hoërskool Centurion het my in staat gestel om aan ’n tersiêre instansie te studeer en in my droomrigtigting te spesialiseer.

Centurion was deel van my vormingsjare en ek sou nie in diepte gegroei het sonder die wortels wat van die onderwysers van Hoërskool Centurion vir my gebied het nie.”

Wat was jou gunsteling-aspek van Hoërskool Centurion?

“Ek was nog altyd aangetrokke tot omstandighede waar liberale standpunte gehoor mag word, maar konserwatiewe waardes steeds as ankerpunt in ag geneem moet word.

In Hoërskool Centurion is daar die beste van beide konserwatiewe en moderne idees saamgesmelt om ’n denkskool te vorm.

Vrye spraak, binne perke, word in klaskamers toegelaat en intellektuele idees mag geopper word. Kreatiwiteit word gestimuleer, asook sterk denkvaardighede.”  

 

Luca van der Westhuizen Wat is jou planne of doelwitte vir na skool?

“Ek gaan na skool ’n verskeidenheid nuwe kunsvorme, soos animasie, by Open Window bestudeer. Ek wil ook graag weer vrywilligerswerk doen.”

Het jy raad vir die matrieks van 2022?

“My raad is dat jy selfsugtig moet wees. Nie op ’n manier wat ander seermaak nie, maar meer soos: ‘Die vyfde plek in die akademiese span gaan myne wees.’ Dit is belangrik om altyd ’n einddoelwit te hê.”

Hoe het Hoërskool Centurion jou gehelp om jou loopbaandoelwitte te bereik?

“Hoërskool Centurion het my gehelp om my loopbaandoelwitte te bereik deur om my die geleentheid te bied om myself beter te verstaan. Die onderwysers was almal wys en het geweet wat ek nodig gehad het om my volle potensiaal te bereik.”

Wat was jou gunsteling-aspek van Hoërskool Centurion?

“Dat die onderwysers en leerders nie huiwer om nuwelinge dadelik deel van die familie te maak nie. Dit is maklik om vriende te maak en ’n plekkie te kry waar jy inpas.”

Hoërskool Centurion is ’n toonaangewende Afrikaanse hoërskool wat in Centurion die gemeenskap dien deur Afrikaans as onderrigtaal te handhaaf. Alhoewel hulle akademiese studierigting van groot belang is, bied hulle ook ’n tegniese studierigting aan.

Back to top button