Inwoners van SAVF Ruimte vier Valentynsdag met anderster troue
Die personeel het óók aan die prettighede deelgeneem en die kok het al te fraai in sy mini-rokkie met krale, sandaaltjies en 'n handsak gelyk.

As jy dink aan die woord trou, waaraan dink jy? Die bruidegom, bruid, strooijonker en strooimeisie?
Die inwoners van SAVF Ruimte-dienssentrum en behuising het egter hierdie idee van trou omgeswaai deur ’n groot makietie met die aanloop tot Valentynsdag te hou.
’n Handjie vol inwoners het besluit om ’n troue van ’n ander aard op te voer om ’n liefdevolle atmosfeer vir hul mede-inwoners te skep.

Die mans het hulself as bruide opgetooi terwyl die vroue ’n pak klere aangetrek het.
’n Inwoner, Kobus Strydom was die bruid en Ansie Kleynhans sy bruidegom. Lika van den Berg en Hansie Pieterse het die rolle van strooijonker en strooimeisie vertolk.
Tokkie Ackerman het as hofknapie opgetree en die rol het haar glo soos ’n handskoen gepas.
Hannes Viljoen was die regter wat die huwelik voltrek het en in swaar Hollands gepraat het.

Veronica Roets was die seremoniemeester en Engela de Jonge was die een wat sonder ’n uitnodiging by die opskop opgedaag het.
De Jonge sê dat hierdie geleentheid beslis een vir die boeke was wat inwoners sal bybly.
“Ons bruid het ’n lieflike trourok aangehad en die ander lede het klere van hulle keuse aangetrek.
“Baie van die dames in die saal het gehoor gegee en dasse om die nek gehad om in die regte gees te kon kom. Die mans was effens sku om deel te neem, maar Jan (de Jonge), was braaf genoeg om ’n romp en bloes aan te trek. Dit was groot pret,” vertel Engela.
Die personeel het óók aan die prettighede deelgeneem en die kok het al te fraai in sy mini-rokkie met krale, sandaaltjies en ’n handsak gelyk.
Die dag is met ’n heerlike ete afgesluit en kolwyntjies het as die troukoek gedien.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
