’n Tsoenami van energie tref die verhoog in musiekblyspel
Gehore kan gereed maak vir sprankelende musiek en asemrowende danspassies, met die musiekblyspel 'Hairspray' wat eersdaags op Centurion teater se planke opgevoer gaan word. Pinto Ferreira, choreograaf, se dinamiese choreogrfie beloof ’n skouspel wat jou voete sal laat jeuk!
Vir choreograaf Pinto Ferreira het die choreografie van die musiekblyspel Hairspray van die begin af ’n duidelike doel gehad: om die energie van dié era te deel sonder om bloot bekende danspassies oor te doen.
“Die doel was om die krag en opwinding van die sestigerjare met die gehoor te deel, deur die musiek én danspassies. Om ’n tsoenami van energie los te laat,” verduidelik hy.
Hy wys daarop dat in die era het baie dansstyle uit sosiale dansaande ontstaan, met mense wat by danssale op die bruisende klank van groot orkeste, met hul blaasinstrumente, en aansteeklike dansritmes, die uitbundige atmosfeer van die era help bepaal het.
Hierdie bewegings het later hul weg na die verhoog gevind, waar dit deel van die vermaakstyle van die era geword het.
Die musiekblyspel se teks is geskryf deur Mark O’Donnell en Thomas Meehan, met musiek deur Marc Shaiman en lirieke deur Scott Wittman en Marc Shaiman. Die produksie is gebaseer op die New Line Cinema-rolprent wat deur John Waters geskryf en geregisseer is.
Ferreira het hom daarom vertroud gemaak met danse soos die ‘mash potato’, ’n bekende dansstyl van die sestigerjare.
Die uitdaging was vir hom as oorspronklike denker om nie bloot die afgesaagde passies te herhaal wat al talle kere in ander produksies gebruik is nie.
“Ek wou iets vars en nuuts binne daardie genre skep.”
Hy voeg by dié benadering beteken dat die choreografie nie los van die karakters ontwikkel nie.
Hairspray se karakters is kleurvolle en dikwels oordrewe komiese figure, met ’n uitgesproke Amerikaanse persoonlikheid.

Vir Ferreira moes die bewegings dus hul individualiteit weerspieël eerder as om almal dieselfde tegniese dansstandaard te laat nastreef.
’n Anderse ingesteldheid teenoor dansontwerp vir ’n produksie tel duidelik altyd meer vir hom as dié van ’n konvensionele dansproduksie.
Die musiekblyspel se verhaal draai rondom die 1960’s in Baltimore, in Maryland aan die ooskus van die VSA, waar TV-dansvertonings, glans en kleurvolle persoonlikhede die middelpunt van vermaak in daardie gevorm het. Tracy Turnblad kry ’n beurt op die stad se gewildste TV-program. Sy droom nie net van roem nie, maar daag ook onreg uit en breek grense tussen mense in die teaterwêreld af.
Vir Ferreira is die bewegings nie noodwendig daarop gemik om tegniese dansvaardigheid ten toon te stel nie, maar eerder om die karakters geloofwaardig en herkenbaar te maak. “Dit is nie noodwendig perfek nie, maar dit is vol karakter,” sê Fer.
Die samewerking met regisseurs Tiaan Kirsten-Lubbe en Lian Sachse, wat ook as vervaardigers optree, het ’n belangrike rol in dié proses gespeel.
Volgens Ferreira is daar van die begin af aan tonele gewerk waarin spel en dans saam ontwikkel het, eerder as om die twee elemente eers teen die einde bymekaar te voeg.
“Tiaan het ’n baie goeie visie van wat hy wil hê,” sê Ferreira oor die kreatiewe proses. Kirsten-Lubbe se werkwyse glo hy het hom gedwing om voorbereid te wees, maar ook om vinnig te dink en aanpassings te maak wanneer ’n toneel anders begin werk as wat verwag is.
Hoewel dié benadering aanvanklik vir hom senutergend was, het Ferreira dit geniet omdat die werkswyse die choreografie minder meganies en tegnies gemaak het. Dit het ruimte geskep vir spontaneïteit en kreatiewe ontdekking.
Die tempo het egter ’n fisieke uitdaging geskep. Hairspray vereis dat spelers gelyktydig sing, dans en toneelspeel, dikwels in vinnige opeenvolging. Om hulle vir dié eise voor te berei, het Ferreira en die span van die begin af soggens fiksheidsessies ingewerk, waaraan akteurs en dansers deelgeneem het.
Die doel was om hul kardiovaskulêre fiksheid op te bou sodat hulle die sang en dans saam kon volhou. Om albei elemente vroeg reeds te kombineer, het ekstra druk op asemhaling en uithouvermoë geplaas, maar dit het die spelers ook gehelp om aan die produksie se intensiteit gewoond te raak.

Ferreira beklemtoon dat professionele voorbereiding en verantwoordelikheid noodsaaklik is. Kunstenaars moet hul choreografie tussen repetisies inoefen sodat hulle dit die volgende dag ken. Eers wanneer die bewegings voldoende vasgelê is, kan hulle hul aandag ten volle op hul karakters en die storie vestig.
Een van Ferreira se gunstelingoomblikke is die finale nommer, You Can’t Stop the Beat. Dié lied bring die produksie se temas en energie in ’n uitbundige slot bymekaar. “Dit is die konklusie van die hele produksie,” sê hy. “Dit is vol vrede, vreugde en uitbundigheid.”
– Die musiekblyspel Hairspray kan vanaf 22 Oktober tot 7 November in Die Centurion Teater gesien word.
– Kliek hier vir ’n video van een van die liedjies uit die vertoning:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
