NewsSchools

Hoërskool Zwartkop beïndruk gaste by opedae en roadshow

“Elke besoeker het ’n kaart van die skoolterrein ontvang waarop besoekpunte uitgelig is. Besoekers pak dan ’n staptog aan waartydens hulle alle aktiwiteite wat die skool aanbied, kan ervaar.”

Hoërskool Zwartkop het hul jaarlikse opedae onlangs aangebied en honderde voornemende Zwarries het die skool besoek.

“Vanjaar se tema: Gek na ons Plek, is by die stalletjies uitgebeeld,” sê woordvoerder van die skool, Yolandi du Plessis.

“Elke besoeker het ’n kaart van die skoolterrein ontvang waarop besoekpunte uitgelig is. Besoekers pak dan ’n staptog aan waartydens hulle alle aktiwiteite wat die skool aanbied, kan ervaar.

“Die akademiese tuin het vakke soos Lugvaartkunde en Fotografie aangebied. Filmkunde sorg jaarliks vir heelwat belangstelling. Die Natuurwetenskaplikes, Taalkundiges en Wiskundiges stal ook uit. Die tegniese sentrum is gebruik om voorlopige inskrywings te ontvang.”

Die skoolhoof het die ouers en voornemende Zwarries in die skoolsaal meer van die skool en die Zwarrie-vibe vertel.

“In die vierkant het die kultuurtiere gesorg vir aksie met die optredes van verskeie solo-sangers. Die groot verskeidenheid kultuuraktiwiteite wat by die skool aangebied word, is ook hier uitgestal. Die Zwarrie Allstars het opgetree en hope vermaak verskaf.

“Die reën wat vroeër die oggend uitgesak het, het nie die verrigtinge gestuit nie, maar wel veroorsaak dat die sportuitstallings na die kondisioneringsentrum geskuif is. Hier kon graad 7-leerders hul verlustig in al die verskillende sportsoorte wat op Zwarrie-bodem aangebied word.”

Die Akademiese tuin. Foto: verskaf.

Du Plessis sê die atletiek het gespog met praguitslae wat tydens die afgelope seisoen verkry is en die netbaldogters het hul mooi uniforms vertoon.

“Buite die kondisioneringsentrum het sagtebal hul stasie opgeslaan waartydens die graad 7’s ’n bietjie kon saamspeel. Die E-sports het ook talle belangstellendes gelok en Robotika was baie populêr.

Voorts bied Hoërskool Zwartkop ook jaarliks ’n roadshow vir die laerskole in Centurion aan waartydens hulle verskeie aktiwiteite wat by die skool aangebied word, ten toon stel.

Onder leiding van mnr. Pieter Alberts, tree 19 dramaleerders in hierdie produksie op. Te danke aan die tegniese leerders wat die klank behartig, sorg die Zwarries vir ’n puik produksie wat harte bekoor. Juffrou Nadia van Niekerk is die afrigter van die dansers wat ook tydens die roadshow optree.

Vanjaar se tema van Ontdek Jou Plek, het die akademie, sport en kultuur van die skool getoonbeeld. Daar is gefokus op die verskeidenheid van vakke asook keusevakke wat in kultuur en sport aangebied word. Die roadshow het gespog met die akademiese prestasies van 2021 se matriekleerders.

Die nuwe Astro-baan het baie aandag getrek en vakke soos Robotica en E-sports is veral gewild.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button