Musiekblyspel se speelvlak verleng na groot aanvraag van teaterliefhebbers
“Die Gelofte” sal nou tot 19 Junie op die planke van die AfriForum-teater te sien wees. Regisseur Jannes Erasmus vertel hulle is verstom oor die goeie terugvoer.

Die Gelofte-musiekblyspel wat aanvanklik net tot aan die einde van Mei by die AfriForum-teater opgevoer sou word, se speelvak is nou tot 19 Junie verleng, nadat kaartjies vir die naweekvertonings soos soetkoek uitverkoop het.
Dié blyspel is ’n AfriForum-produksie wat in samewerking met Inhoud Huis Musiek aangebied word. Die rolverdeling spog met groot name in die musiek- en teaterbedryf soos Ilan van Staden, Johan Vorster, Nadia Beukes en Bernice West.
Die teks is deur Jannes Erasmus geskryf en volg die geskiedkundige gebeure van Die Gelofte voor die Slag van Bloedrivier. Erasmus behartig ook die regie vir dié produksie.
Musiek en lirieke is deur Vorster en Jacomien de Villiers aanmekaar gesit met Francois Lessing aan die stuur van orkestrasie en musiekregie.
Volgens Erasmus is die musiek oorspronklik en werklik van wêreldklasgehalte.
“Vir my is dit belangrik om die gehoor fisies en emosioneel deel van die ervaring te maak. Die rou emosie wanneer elke persoon teenwoordig staan tydens die aflê van die Gelofte, is seker een van my gunstelingoomblikke.
“Selfs mense wat ervare teatergangers en gereeld in die gehoor sit, sê dat hierdie blyspel, uniek is,” vertel hy.
“Die mense wat hierby betrokke is, is vir my ’n hoogtepunt. Aan die begin was ons ’n groep vreemdelinge wat elkeen ons eie bagasie het wat die Here kies om saam op hierdie reis te gaan en nou is ons ’n hegte familie.
“Die Here het al mense veel minder bekwaam as ons gebruik om Sy woord te verkondig en wat ’n voorreg om dit op hierdie manier te kan doen,” sê Erasmus.
“Vir ’n wonderwerk om te gebeur moet daar ’n bonatuurlike ingryping plaasvind van ons God, maar dit vereis dat ’n mens jou knie voor Sy grootheid buig.
“Dit het in 1838 gebeur en wonderwerke gebeur steeds vandag.
Erasmus sê hulle is verstom oor die goeie terugvoer.

“Die Gelofte is nie net ’n opvoering wat ’n belewenis is nie – dit verander werklik mense se lewens. Ons word oorval met mense wat sê dat hulle met hoop gevul is soos hulle by die teater uitstap en dat hulle weer kans sien vir die toekoms,” sê Vorster en De Villiers.
Uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel, sê dat hulle ’n behoefte raakgesien het by die publiek om die boodskap van hoop oor te dra.
“Die oorweldigende positiewe reaksie van die publiek en die kaartjieverkope het al ons verwagtinge oortref.
“Dit maak dit moontlik dat ons nou die geleentheid aan meer mense kan bied om hierdie boodskap van hoop eerstehands by die teater te beleef,” noem Kriel.
Teaterbestuurder Carien Bloem sê dat hulle in groot verwondering oor die belangstelling is.
“Dis die perfekte kombinasie van erns en vreugde.
“Die Gelofte is ’n ongelooflike blyspel wat nuwe waardering vir ons geskiedenis kweek en ’n hernude trots in ons Afrikaner-kultuur en erfenis by jou sal agterlaat. Hierdie blyspel is ’n móét-sien” sê Bloem.
Kyk die voorskou hier:
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
