Dogtertjie (5) lief vir rugby, maar geen rabbedoe nie
Elke keer as haar boetie rugbyoefening bywoon, was Isabella altyd daar om hom te ondersteun en so op 'n dag besluit sy sy wil ook hierdie sport beoefen.
’n Vyfjarige dogtertjie van Rivieria in die Moot, Isabella Morris, mag dalk ’n spoedvraat op die rugbyveld wees, maar die donkerkoppie is geen rabbedoe nie.
Mamma, Tascha Strauss vertel dat dit ’n eindelose stryd is om Isabella in die oggende in ’n sweetpak te kry, omdat sy net wil rokkies dra en soos ’n prinsessie wil lyk.
Isabella, ’n leerder van Laerskool Anton van Wouw, is die enigste dogtertjie wat saam met die skool se rugbyspan op die veld draf.
Tydens ’n Blou Bulle-rugbydag wat op Loftus Versfeld gespeel is, het sy twee drieë gedruk.
Haar liefde vir dié sport het merendeels gekom as gevolg van haar aktiewe leefstyl.
Rugby was die eerste sport wat oor haar pad gekom het.
Elke keer as haar boetie, Alexander Shuttleworth (8), rugbyoefening bywoon, was Isabella altyd daar om hom te ondersteun en so op ’n dag besluit sy sy wil ook hierdie sport beoefen.
“Ek het die afrigter genader en gevra of Isabella kan speel, en hy sê toe beslis!
“Van toe af het sy saam met die seuns begin oefen,” vertel Tascha.
Sy sê dat haar Isabella van kleins af nie ’n bang haar op haar kop gehad het nie.
“Alexander speel rugby vir die lekkerte daarvan, maar as ek vir hom vra watter sport hy graag wil speel, dan sê hy Wiskunde.

“Aan die begin was dit maar vreemd om haar tussen die klomp seuns te sien, maar dit is nou al vir haar tweede natuur – sy is gek daaroor.
“Haar gunsteling-tekenprentkarakter is Elsa van Frozen. Sy wou nog altyd ’n rokkie nes Elsa gehad het, maar dit moes pienk wees. Ek kon nêrens die kleur kry nie en moes toe self ’n rokkie vir Isabella maak,” vertel Tascha.
Isabella se gunstelingrugbyspan is die Blou Bulle en Tascha beoog om haar kinders eersdaag na ’n rugbywedstryd op Loftus Versfeld te vat.
Die skoolrugbyseisoen het nou tot ’n einde gekom en Isabella begin volgende week met mini-hokkie.
“As sy volgende jaar weer Blou Bulletjie rugby wil speel, sal ek verseker laat sy dit weer doen.
“Sy is rats en sy was so in haar noppies met haar twee drieë wat sy gedruk het.
“Ek is baie trots op haar. Wie weet? Dalk motiveer Isabella ander dogtertjies om ook te kom rugby speel,” sê Tascha.
