AfriForum se #OnsDorp-projek fokus op brandbestryding, skoonmaak-aksie
“Dit is vir AfriForum belangrik om tak- en buurtwaglede om hierdie vrywilligers met die nodige kennis toe te rus om te verseker dat gemeenskappe verantwoordelik en binne die raamwerk van die wet beveilig word.”
Die AfriForum-takke in Centurion en die Groter Moot het die afgelope naweek brandbestrydingsopleiding ontvang en ook ’n skoonmaak-aksie by die Voortrekkermonument aangepak as deel van die #OnsDorp-projek.
Tien vrywilligers vanuit albei die takke het deelgeneem aan die brandbestrydingsopleiding.
“Dit is vir AfriForum belangrik om tak- en buurtwaglede nie net met die nodige toerusting toe te rus om gemeenskappe veilig te hou nie, maar om hierdie vrywilligers ook met die nodige kennis toe te rus om te verseker dat gemeenskappe verantwoordelik en binne die raamwerk van die wet beveilig word,” sê AfriForum se distrikskoördineerder vir groter Pretoria-Suid, Dewet Ungerer.
Die takke het ook hande gevat en ’n grootskaalse skoonmaak-aksie by die Voortrekkermonument aangepak. Hierdie aksie, wat deel vorm van die #OnsDorp-projek, is ’n geleentheid vir die gemeenskap om self in te spring en hulle omgewing skoon te maak.

“Hierdie takke is elk aan ’n verskillende area in Pretoria verbonde, maar dit plaas glad nie ’n demper op hul entoesiasme om af en toe kragte saam te snoer en ’n groot projek soos hierdie suksesvol af te handel nie,” sê Ungerer.
“Die feit dat hierdie vrywilligers aktief en gretig by hierdie skoonmaak-aksies opdaag, is regtig iets waarop hierdie twee takke trots kan wees.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
