Local newsNews

Centurion skrywer publiseer debuut digbundel

Carla Botha het eers begin skryf op laerskool

Carla Botha, ’n inwoner van Centurion skryf al haar hele lewe lank gedigte en stories en haar debuutbundel Geleende Seisoene word vanjaar vrygestel.

Botha het grootgeword op ’n klein plaasdorpie genaamd Vaalwater.

Sy moes ongelukkig na matriek die Waterberge verruil vir onderwysstudies by Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria.

As jong skoolonderwyser het die reisgogga haar gebyt en is sy vort op soek na avonture waar sy verder gaan studeer het, eers in Amerika en toe in Parys, Frankryk, waar sy haar meestersgraad verwerf het.

En alhoewel haar voete en siel nóg nie rus kon vind nie, anker haar diep liefde vir woorde en Afrikaans haar.

Sy is ook die stigter van ‘Ons skryf Afrikaans’ op sosiale media en het nog baie planne vir dié platform om Afrikaans te help bevorder.

Botha werk tans by New York University in Abu Dhabi waar sy voltyds klasse in akademiese skryfwerk aanbied, asook ’n gemengde literatuurklas.

Sy is ook besig met haar doktorale studies aan die Universiteit van Amsterdam.

Van haar fotografie en Engelse digkuns en boekresensies is al in Nederland en Amerika gepubliseer.

Geleende Seisoene is die begin van ’n diep menslike gesprek met elke leser.

Die wye verskeidenheid gedigte in hierdie bundel is opgedra aan almal wat worstel met die alledaagse, kortstondige lewe – geloof, liefde en verliese in hul verskeidenheid vorme.

Die spreker se grootwordjare lê die fondasie vir hierdie bundel met sy tematiese variasies wat getuig van tegniese vernuf, en open die venster vir ’n kykie in die digterspreker se unieke, dog eerlike en universele ervaringe wat diep uit die siel kom.

Rekord het ’n onderhoud gevoer met Botha oor haar skryfloopbaan.

Op watter ouderdom het jy begin skryf, en wanneer het jy besef jy wou ’n skrywer word?

Ek het al op laerskool begin skryf (1989).

My eerste storie was Trienkie die Telefoon en is in die skool se jaarblad gepubliseer. Ek dink dit was waar die skryfgogga my gebyt het.

Ek het nooit gedink ek wil ’n skrywer word nie, maar het geweet ek wil eendag ’n paar boeke probeer skryf.

Het skryf jou lewe verryk of beter gemaak, en in watter opsig?

Vir my loop lees en skryf hand aan hand, en wanneer mens lees word duisende ander wêrelde aan mens geopenbaar.

Die akademiese en kreatiewe verryking wat beide skryf en lees aan my verskaf,is van onskatbare waarde noudat ek al hoe meer besef hoe moeilik skryf eintlik is!

En omdat ek nog altyd van uitdagings gehou het, is dit skryf wat nou die grootste uitdaging vir my is, maar aanhou om my lewe te verryk.

Wat motiveer jou om te skryf?

Ek dink elke dag bring iets wat my laat skryf.

Eergister was dit die verlies van ’n goeie vriend, en vandag is dit die hangende hartseer wat my motiveer.

Oormôre is dit dalk die bure se verskriklike hond – ek dink dit is veilig om te sê ek vind motivering in die dinge, plekke en ervarings rondom my.

Gunsteling-aspek in die proses van skryf?

Wanneer beeldspraak ’n verrassende prentjie oplewer – iets kreatiefs wat heel onverwags opduik en hopelik my leser ook sal verras.

Ek dink ook om die finale produk in mens se hand vas te hou.

Kan jy ’n paar skrywers noem wat jou skryfwerk beïnvloed het?

Skrywers soos Louise Glück, Mary Oliver, Charles Bukowski, Antjie Krog en Totius het beslis ’n groot impak op my gemaak.

Daar is natuurlik baie ander name, maar hierdie paar staan vir my uit.

Advies vir jong en aspirant-skrywers?

Lees en lees en lees! Mens leer baie deur die werke van andere te analiseer, veral poësie! Maar maak ook seker om jou stem op papier te vind – ons kort nie nog ’n Breyten of Antjie nie.

Watter advies sou jy vir jou jonger self gee in verband met skryf?

Dat die wêreld van digkuns uit meer bestaan as net paar-rym en liefdesgedigte – skryf en dink wyer!

Hoe het jou reise oor die wêreld jou skryfwerk beïnvloed?

Die blootstelling aan internasionale skrywers en skryfwerk het my laat besef daar is so baie wat ek nog nie weet nie, maar graag sal wil leer.

Dit het my aangespoor om verder te gaan studeer in Parys, Frankryk waar skrywers soos Zadie Smith, Jonathan Safran Foer, Ocean Vuong en Catherine Barnett hul geheime oor skryf deel.

Ek dink reis is broodnodige medisyne vir enige skrywer – selfs al reis mens net deur ons eie mooi land.

Dit is pitkos vir die skrywersbrein.

Baie mense wat ervaring het met klasgee of onderwys sê iets soos ‘the teacher learns more from the student than the student does from the teacher.’
Watter lesse sal jy sê het jy al geleer as iemand wat klasgee?

Dis ’n baie waar gesegde.

Ek het al geleer dat sinskonstruksie soms by die deur moet uitwaai as mens ’n meer kreatiewe eindproduk wil skep (nie altyd nie, maar baie keer).

Ook dat wat vir my sin maak nie altyd vir my studente sin maak nie – luister na die studente, hulle is ook soms reg!

LEES MEER: Pretoria-Noord atletiekklub se meesters atlete presteer

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button