Local newsNewsSchools

Oos-Moot oud-leerder vertel van Pumas se soete oorwinning

"Die pad tot die eindstryd was nie maklik gewees nie, maar dit was sowaar 'n soete oorwinning. Ek dink nie ek sal ooit daardie wengevoel vir enigiemand kan beskryf nie."

’n Voormalige leerder van Hoërskool Oos-Moot, Eduan Swart, se sukses tot Curriebeker-glorie is een wat hy vir altyd sal koester.

Swart, wat aan die einde van die 2021-rugbyseisoen as ’n leenspeler by die Airlink Pumas aangesluit het, was deel van die Laevelders, wat geskiedenis gemaak het toe hulle vir die eerste keer dié gesogte trofee omhoog gehou het.

Die span van Mbombela het in die eindstryd teen die Windhoek Draught Griekwas in Kimberley te staan gekom waar hulle met 26-19 koning gekraai het.

Swart het kort voor rustyd ’n drie na afloop van ’n rolmaalbeweging vir sy span aangeteken.

Hy het sy debuut vir die Pumas teen die Leeus op Mbombela vanaf die plaasvervangersbank gemaak.

Eduan Swart tydens vanjaar se Curriebeker-eindstryd op Kimberley.

“Die pad tot die eindstryd was nie maklik gewees nie, maar dit was sowaar ’n soete oorwinning. Ek dink nie ek sal ooit daardie wengevoel vir enigiemand kan beskryf nie. Dit was ’n ongelooflike pad tot die eindstryd saam met ’n ongelooflike span,” sê Swart.

“Dit was die eerste keer in drie jaar waar ons voor ’n stampvol stadion kon speel en die gees het nie net onder die span geheers nie, maar ook in die skare.”

Swart het reeds as groentjie die sport begin beoefen. Hy het in graad 6 vir Laerskool Totiusdal se eerste rugbyspan gespeel waarna hy sy rugbyloopbaan by Hoërskool Oos-Moot voortgesit het.

Dié 21-jarige is vir die o.16-Blou Bulle Noordvaal se C-span gekies. In 2018, het hy die Cravenweek XV-tal se span as kaptein op die veld gelei. Hy was ook sy skool se rugbykaptein gewees.

Na afloop van sy hoërskoolloopbaan, het hy ’n rugbybeurs by die Universiteit van Pretoria losgeslaan. Hier hy het vir Tukkies se Varsitybeker se Young Guns uitgedraf. Swart was ook deel van die Blou Bulle se o.19- en o.21-spanne.

Afrigter van die Pumas, Jimmy Stonhouse, het hom na die Laeveld toe gelok.

“Ek het op skoolvlak laas op haker uitgedraf, so dit was ’n uitdaging om weer op hierdie posisie te speel. As die nie vir coach Jimmy was nie, sou ek nie my volle potensiaal as ’n speler kon bereik nie. Ek kan met groot lof oor hom praat en ek sien uit om ’n pad saam met hom te stap.”

Swart is tot aan die einde van 2023 by die Pumas gekontrakteer.

Hoe lyk die pad vorentoe vir Swart? Vir nou wil hy net doen waarvoor hy lief is en vir so lank as moontlik sy liefde vir die sport kan uitleef.

Swart was ook deel van die groep van 30 spelers wat in die Carling Black Label-kampioenskappe se span ingesluit is wat teen Italië A-span te staan gekom het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button