Bobaas-melktertkampioen gekroon
Helpende Hand se Pretoria-Oos-streek het dié kompetisie vanjaar vir die eerste keer spesiaal vir senior burgers in aftreeoorde aangebied.
Om ’n bobaas-melktert te maak, verg liefde vir dié smullekker stukkie Afrikaanse kultuur en ’n aanvoeling vir die resep.
Dit is die raad van Bettie du Preez, ’n voormalige Afrikaanse juffrou van Hoërskool Waterkloof, wat pas as Solidariteit Helpende Hand se bobaas-melktertkampioen van die ooste gekroon is.
Helpende Hand se Pretoria-Oos-streek het dié kompetisie vanjaar vir die eerste keer spesiaal vir senior burgers in aftreeoorde aangebied.

“My liefde vir bak kom van my kinderjare af toe ek ure saam met my ma, Tillie Knoetze, in haar plaaskombuis spandeer het. Ek het maar net hierdie melktert gemaak soos my ma altyd hare gemaak het. Daar is geen geheime bestanddele nie; jy moet maar net ’n aanvoeling vir jou resep hê en dit daarvolgens kan aanpas as jy byvoorbeeld sien die vulsel is te loperig. Die aanvoeling kom maar deur ondervinding. Ons hou ook nie van melktert wat te soet is nie, so ek gebruik net die regte hoeveelheid suiker vir ons palette,” sê Du Preez.
Du Preez is ’n ma van drie kinders. Sy en haar man, Willie, het verlede jaar in die Featherwood Aftreeoord in die ooste van Pretoria ingetrek.
Sy sê sy bak tans nie meer so baie soos sy altyd gebak het nie, maar bak nog gereeld beskuit en haar appeltert is iets om oor huis toe te skryf.
Volgens Isabel Böning, Helpende Hand se streeksorganiseerder vir Pretoria-Oos, was dit omtrent ’n moeilike taak om die beste melktert te kies.
“Twee aftreeoorde het vir die kompetisie ingeskryf en nege finaliste se melkterte is beoordeel. Uiteindelik het tannie Bettie se melktert die meeste punte gekry en het sy ’n kontantprys van ons borge ontvang en daarmee saam die reg om te spog dat sy die bobaas-melktertkampioen is,” sê Böning.
As deel van die kompetisie moes Du Preez ’n paar klein melktertjies bak wat ter wille van bewusmaking aan kleuters in die Klein Sterretjies Speelgroep uitgedeel is. Hulle het ook heerlik gesmul.

“Julle moet melktert eet en die resepte leer sodat die kultuur en tradisie kan voortleef,” was Du Preez se wyse raad vir die kleinspan.
MEV. BETTIE DU PREEZ: BOBAAS MELKTERTKAMPIOEN 2022
MELKTERT RESEP:
Kors:
1 eetlepel rondvol botter
1 eetlepel rondvol suiker
1 koppie meel
1 eier
1 teelepel bakpoeier
knippie sout
Metode:
1. Klop botter en suiker tot room.
2. Voeg eier by en klits.
3. Voeg meel en bakpoeier by.
4. Rol uit en bak by 180°C.
Vulsel:
2 koppies melk
1 dessert lepel botter
3 eetlepels suiker
1 eetlepel meel
1 eetlepel maizena (mielieblom meel)
2 eiers en knippie sout
1 teelepel vanilla
Metode:
1. Meng suiker, meel, maizena en sout.
2. Skei eiers en voeg eiergele en ’n ½ koppie melk by meel mengsel en meng goed.
3. Kook melk en botter.
4. Haal af van hitte en roer meel en eiermengsel stadig by en bring weer tot kookpunt.
5. Klits eierwitte met ½ teelepel bakpoeier tot amper styf.
6. Roer geklopte eiers by melkmengsel.
7. Voeg 1 teelepel vanilla by en meng.
8. Gooi in kors en gooi kaneel oor.
Bedien en smul lekker.
ALSO READ: Palissander Chamber Choir celebrates 30 years
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
