AfriForum stel planne bekend vir elektrisiteitsplan
"Almal word ewe veel hierdeur geraak en ons moet hande vat as ons deur dit wil kom," sê die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel.
AfriForum is besig om hul elektrisiteitsplan te ontwikkel, en het Dinsdagoggend ’n mediakonferensie gehou om vir die publiek te verduidelik hoe hulle hierdie plan ’n realiteit gaan maak.
Uitvoerende hoof Kallie Kriel, hoof van gemeenskapsontwikkeling Johan Kruger, en Morné Mostert, bestuurder van plaaslike regeringsake, het hul elektrisiteitsplan uiteengesit.
Kriel verduidelik dat die land se huidige omstandighede wanneer dit by elektrisiteitsvoorsiening kom nie volhoubaar is nie.

Foto: verskaf
“Ek dink almal in die land kan saamstem dat ons nie so kan aanhou lewe nie.
“Met beurtkrag het mense nie ’n kwaliteitlewe nie,” sê hy.
“Mense kry swaar en besighede moet hulle deure sluit.
“Ons boere is ook onder druk,” voeg hy by.
Hy verduidelik dat dit in elke Suid-Afrikaner se belang is om met oplossings vorendag te kom in die lig van die elektrisiteitskrisis.
“Almal word ewe veel hierdeur geraak, en ons moet hande vat as ons deur dit wil kom.”
Kriel sê hul elektrisiteitsplan sal in drie fases opgedeel word.
“Die situasie is so dat daar nie ’n vinnige oplossing is nie, maar dat ons stadig oor tyd met oplossings opkom vir almal.”
Die eerste fase is ’n voetsoolvlak-operasie met die doel om mense en gemeenskappe in te lig.
In hierdie fase gaan hulle ’n fasiliterende rol speel om mense en gemeenskappe dwarsoor die land in te lig oor alternatiewe energie-oplossings.
“Jou gemiddelde persoon weet nie hoe alternatiewe energie werk nie en ons rol sal wees om vir hulle advies te gee.”
AfriForum het tans ’n taakspan gebou om uit te reik na gemeenskappe.
“Ons sien onsself nie as die redders van die land nie, ons rol is nou om mense met kennis te bemagtig,” sê Kriel.
Die tweede fase sal op ’n munisipale vlak wees.
“Ons wil op ’n plaaslike vlak werk met die munisipaliteite.
“Hier wil ons ook ’n fasiliterende rol speel.
“Ons wil verseker dat bekwame mense aangestel is.
“Ons wil hulle benader met bloudrukke oor hoe ons dink hulle kan voortgaan.”
Die derde en mees ambisieus fase is om kernreaktors te bou.
Hulle beplan om met spesiale steedbed reaktors te werk.
Kriel se dié reaktors het al baie sukses in Amerika gesien.
“Dit is tans die veiligste en mees stabiele vorm van kernenergie beskikbaar, en is ’n vorm van ‘groen’ energie.”
Kriel sê dit sal die mees uitdagende deel van hul plan wees en sal tot 10 jaar duur.
Sodra dié planne in plek is, sal AfriForum uiteindelik hul planne aan die regering voorlê as ’n alternatiewe oplossing vir die energiekrisis.
Mostert verduidelik dat ’n lys regstappe eers gemaak sal moet word om die regering verantwoordelik te hou vir die energiekrisis, veral die jongste tariefverhoging.
“Ons wil hê hulle moet ’n rede vir hierdie toename op skrif gee,” sê Mostert.
“Die regstappe en litigasie is baie belangrik om soveel as moontlik rolspelers betrokke te kry.”

Foto: verskaf
Kruger verduidelik dat Prof. Johan Rens en Neil Human intussen ’n boekie geskryf het genaamd Basiese Beginsels vir Sonkrag wat in diepte verduidelik hoe sonpanele werk.
“As mense Google oor sonpanele, word jy oorweldig met inligting en advertensies van besighede wat hul dienste aanbied,” sê Kruger.
“Met hierdie boekie bemagtig ons mense om te weet waar om te begin en om van die jargon te verstaan.
“Ons sal hierdie besighede ook ondersoek om te verseker dat mense net van die beste dienste voorsien word.”
LEES MEER: Man ses keer gesteek in 18e Laan
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
