AfriForum Moot-buurtspan takel Suid-spruit
“Ons hoop is dat die gemeenskap sal inkoop en ons help om die spruite te ontwikkel in voet- en fietsvriendelike gebiede,” sê buurtbeampte Andries Opperman.
AfriForum Groter Moot se buurtspan het hierdie week hulle aandag op die spruit gevestig.
Hulle het gefokus op die suidspruit se walle en dit oop gesnoei.
Buurtbeampte Andries Opperman verduidelik hoekom dit so belangrik is om die spruit te bewaar.
“Die Moot se Noord- en Suid-spruit sowel as die Hartbeesspruit is nou al dekades nie behoorlik in stand gehou nie.
“Die spruite is gelyk aan ’n reuse-uitdaging wat die veiligheid van die Moot bedreig, maar ook ’n pragtige stukkie genade om groen en blou te bring tussen die huise,” vertel hy.
“Hulle was ook nog nooit in hulle bestaan ontwikkel tot behoorlike toeganklike natuurskoon nie.”
Opskietboompies wat jare terug gesnoei moes word, het nou sementwalle gebreek.
Dit word ook al meer kommerwekkend vir die gemeenskap om onwettige plakkers rontom die spruit te sien.
Raadslid Mari Joubert verduidelik dit het ’n groeiende probleem geword in die afgelope jaar, maar hulle werk hard om dit tot ’n einde te bring.
Sluipslapers het die oorgroeide bosse oorgeneem en gebruik dit as toilette.
Asblikgrawers doen sorteerwerk daarbinne en los dan hope rommel net agter.
Onwettige grondgrype vind ook dwarsdeur die Moot in die spruite plaas.
Volgens Opperman, word min of geen bywette toegepas deur die metropolisie nie.
“Ongelukkig is daar inwoners en hulle kontrakteurs ook besig om die spruite te vernietig deur onwettige storting van bourommel.
“Dit is natuurlik ook ’n direkte uitvloeisel van die Stadsraad wat nie veiligheid kan verseker by stortingsterreine nie.”
Sedert April 2019 het AfriForum Groter Moot deurlopend en gereelde gemeenskap spruitskoonmaak-aksies gehou in die Moot.
Dit is intussen ook aangevul deur duisende ure se werk deur die buurtspan wat die tak aangestel het.
Die AfriForum Groter Moot buurtwag patrolleer ook gereeld die spruite en het al by verskeie geleenthede daggaplantasies daaruit verwyder en verdagtes daar gearresteer.
“Ons is nou besig om met die uiters beperkte hulpbronne tot ons beskikking hierdie noodsaaklike instandhouding werk te begin.
“Ons hoop is dat die gemeenskap sal inkoop en ons help om die spruite te ontwikkel in voet- en fietsvriendelike gebiede.
“Ons kinders kan ook so die natuur gaan geniet,” sluit Opperman af.
Hougaard gediagnoseer met aspirasie pneumonie, beterskap op pad
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
