C-Storm sing oor die maan
Tong-in-die-kies sing hy hoe ons in die donker lê en luister – nie na Lisa se klavier nie, maar na Eskom se vampier.
Pretorianers het tonekrul-lekker musiek geniet by die Centurion teater die afgelope naweek toe hul getrakteer is op ’n keurspel musiek en gedigte wat om die tema “Die donker kant van die maan” gevleg is.
’n Mens sou amper dink C-Storm, oftewel Carel Sebastiaan, ’n boorling van Pretoria, is met die maan gepla. Maar terwyl jy luister na sy sielsmusiek, met hier en daar ’n bekende liedjie soos “Man on the Moon” tussenin, word jy bewus gemaak van meer as net ’n geykte idee of twee.
Tong-in-die-kies sing hy hoe ons in die donker lê en luister – nie na Lisa se klavier nie, maar na Eskom se vampier.
En dan is daar “Die kol op die maan” – ’n liedjie wat al aan radioluisteraars baie bekend is. Carel herinner die gehoor dat selfs Liewe Heksie al op die maan was (en daar sing die hele teater saam oor Levinia!)
Daar is ’n plek ver anderkant die maan waar jy jouself dalk kan vind en ook verstaan – ’n plek tussen môre en gister se verniel, met hoop en rus vir gees en siel – so sing C-Storm.
Een van sy treffers wat groot applous uitgelok het was “Skoenlapper” – “sprei jou vlerke in die die wind tot anderkant my hart se donker punt”.
Carel is liriekskrywer, sanger en digter. Sy eerste digbundel, Ritmies tussen lyne is deur ’n uitgewer afgekeur omdat hulle alle Christelike idees daaruit wou verwyder, maar Carel het geweier. Dit is wel op bestelling te koop, en het hy aan Rekord vertel, sy eerste Engelse digbundel gaan eersdaags voltooi wees. Ons sien uit daarna.
“Hoekom is die hemel blou?” is C-Storm se nuutste enkelsnit. Soos sy ander musiek is hierdie ’n volwasse kontemporêre luisterliedjie.
Dit vertel die storie van ’n oom wat demensie gehad het – en vra waaraan hy gedink het in die helder oomblikke wat hy nog ervaar het. Die titel verduidelik dat die oom vra hoekom is die hemel blou, en dan se hy “as ek net kon onthou”.
C-Storm se musiek resoneer met menslike ervaring en gevoeloens sonder om soetsappig te raak. Van die mense wat by die vertoning was, het dit beskryf as “luistermusiek vir die alledaagse mens wat net mens is”.
Hy skryf oor die seer wat die lewe gee en om daarna te luister is soos helende heuning op ’n oop wond. Geen van sy lirieke is uitbuitend geskryf om trane te trek nie. Dit is suiwer beskrywend van ware emosie en dit is juis sy suiwere aanslag wat sy musiek so treffend maak.
So met die draai na die maan toe, kom hy uiteindelik tot die gevolgtrekking dat die maan nie ’n donker kant het nie, maar wel ’n ander kant, en, sluit hy af met sy reeds bekende treffer “Môre sal die son weer skyn”.
En ja, sy seun is reg, hy IS cooler as Koos Kombuis! Hou dop, hierdie sanger kan die groot name in die luisterliedmark die stryd kom aansê.
Indulge in the sweetness of Leopard’s Leap Honey-Cup
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
