LifestyleLocal newsNews

Omstrede aanbieder wil nou laataand-debatte laat vlam vat

Omstrede aanbieder Rian van Heerden beplan om 'n klip in die bos te gooi vir sy gaste op sy nuwe televisie besprekingsprogram 'Laataand by Rian' en so debatte oor die land se toekoms te ontketen.

Die dikwels omstrede televisie- en radio-aanbieder, Rian van Heerden, beoog om tydens sy nuwe televisieprogram, Laataand by Rian, Suid-Afrikaanse gehore met iets grondverskuiwends te verras.

Hy verklap min wanneer hy daaroor praat. Hy noem dit wel “’n opwindende avontuur”.

Kykers sal sekerlik weereens die aanbieder met sy ysere blik met ’n knippie sout (en peper) moet neem.

Tydens die nuwe program gaan hy “prominent politiek praat,” sê Van Heerden. Hy wil die land in rep en roer kry.

Sy besprekingsprogram sal twee segmente beslaan:

Die gas in die eerste segment sal egter nie weet wie die tweede gas is nie.

Van Heerden meen: “Dis die ware dinamiet! Ek sien uit na die gesprekke tussen die twee andersdenkendes”.

Hy verduidelik dat die resep deeglik deur die program se navorsers beproef is.

“Die tweede gas sal nie ’n tipiese ateljeegas wees nie.”

Bekende en gewilde, maar dikwels omstrede radio- en televisieaanbieder Rian van Heerden se nuwe televisie besprekingsprogram ‘Laataand by Rian’ gaan kykers dalk uit die slaap hou.

Hy kon wel bevestig Gayton McKenzie, leier van die Patriotic Alliance, en Boet Schoeman, ’n bekende mampoerstoker, is sy eerste gaste.

“Die tweede gas is gewoonlik ’n eksentrieke of buitengewone persoon wat genooi word om die gesprekke in ’n ligte trant te hou.”

Van Heerden voel, anders as in naelbyt-programme wat hy aanbied, soos Wie word ’n miljoenêr? kan hy dalk ’n slag agteroor sit.

Hy wil die dinamiek tussen sy gespreksgenote dophou.

Van Heerden was meer as 30 jaar ’n radio-aanbieder van veral ontbytprogramme op radio. Hy het ook ander televisieprogramme soos op die stroomdiens Showmax, Seks in Afrikaans, vervaardig.

In Junie 2022 het hy na tien jaar by JacarandaFM se The Scenic Drive-program sy oorfone opgehang en op sy sakebelange begin fokus.

Om met mense te gesels en debatte te ontketen, bly die asem in sy longe.

“Ek sien nog altyd elke gas op enige program as ’n unieke individu. Ek wil die mens agter die storie of tema na kykers bring.”

As hy nou hiervoor ’n klip in die bos moet gooi, des te beter vir hierdie sogenaamde “shockjock”.

Luisteraars en kykers is egter gewoond aan Van Heerden se meer direkte en nugter styl. Inteendeel, hulle verwag niks minder van hom nie. Sy aanhang strek ver en wyd.

Volgens Van Heerden soek hy in elke Laataand by Rian-program antwoorde op een vraag: Waarnatoe is Suid-Afrikaners op pad?

Daar is reeds twee episodes opgeneem in sy restaurant, Delizioso, in Centurion, Pretoria.

“Ek vind die opnames in die restaurant werk goed vir ons. Mense is minder styf as wanneer hulle tuis is.”

Die restaurant word vir die opnames gesluit wanneer die program laat in die aand opgeneem word.

“Maar daar is altyd ’n paar bittereinders wat bly vir die saamgesels.”

Natuurlik ook, vir die saamstry.

Want met ’n Rian van Heerden-produksie kan jy maar weet, min word gesensor en daar is altyd ’n sprankie verfrissende humor.

Laataand by Rian word vanaf Dinsdag, 4 Julie om 21:00 op kykNET uitgesaai.

Hougaard gediagnoseer met aspirasie pneumonie, beterskap op pad

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button