Professor onthul geheime van die Oos-fort
“Hierdie navorsingsprojek is al ’n paar jaar aan die gang en gaan daaroor om die storie van die Oos-fort, die prentjie wat ons het van die fort, effens kleur te gee.”
Vir baie mense is die rye klippe van die Oos-fort in Pretoria net nog ’n ry klippe.
Maar vir professor Anton van Vollenhoven, direksielid van die Voortrekkermonument (VTM), is hierdie murasies stories wat wag om vertel te word.
Die professor en sy span het die gebied besoek om van sy geheime op te grawe.
“Hierdie was tien-teen-een die offisiersvertrek.
“Mens kan dit sien in die porseleinskerwe van inkpotjies en die klein knopies, van offisiersuniforms wat ons al hier gekry het.”
Van Vollenhoven dien nie net op die VTM se direksie nie, maar is ook ’n top-argeoloog wat dien op die Suid-Afrikaanse Erfenisraad.
Daar het hy argeologiese opgrawings gemaak om die prentjie van Anglo-Boereoorlog-geskiedenis bietjie duideliker te kan skets.
“Hierdie navorsingsprojek is al ’n paar jaar aan die gang en gaan daaroor om die storie van die Oos-fort, die prentjie wat ons het van die fort, effens kleur te gee.
“Hierdie opgrawings kan ons help om die forte beter te verstaan.
“Ons kan ook so uitvind hoe die fort gelyk het, wat die soldate hier gedoen het en hoe hulle geleef het,” vertel Van Vollenhoven.

Foto: Verskaf
Hierdie is een van talle Britse forte wat opgerig is tydens die Anglo-Boereoorlog in Pretoria.
“Langs die offisiersvertrek, vermoed ons, was die menasie.
“Dit is in al hierdie klein vondse, ’n skroef hier, ’n bordskerf daar, koeëldoppies en ammunisie, waar die stories wegkruip.”
Van Vollenhoven vertel dat hierdie artefakte van onskatbare waarde is.
“Al hierdie klein goedjies wat ons optel en uitgrawe, vertel vir ons die verhaal van die forte in Pretoria.
“Dit sê vir ons watter gewere hulle gebruik het, wat hulle geëet het, hoe hulle geleef het en elke koeëldoppie.”
Van Vollenhoven en sy span het verlede jaar tydens hul besoek aan die fort op ’n ongelooflike vonds – ’n bajonet – afgekom.
Hy vertel dat hierdie vonds een van die uniekste items is waarop hulle al ooit hier afgekom het.
“Waardevol is ’n relatiewe term as dit by artefakte kom.
“Verlede jaar toe ons op die bajonet afgekom het, het ons nie eintlik iets nuut geleer nie,” vertel hy.
“Ons weet reeds hulle het daardie tipe wapens gebruik, maar dit was ’n ongelooflike unieke voorwerp om hiér te kry.
“Die bajonet sou uiteindelik weer op jou geweer moes kom, daarom is dié vonds vir my so uniek.”
Van Vollenhoven en sy span gaan binnekort die Kruger-wildtuin besoek om daar hul soeke na die stories van die geskiedenis voort te sit.
“Oor twee weke gaan ek na die Kruger-wildtuin se Pafuri-grenskamp toe.
“Ek het vir 22 jaar lank ook daar gewerk aan Anglo-Boereoorlog-opgrawings.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
