Bekfluitjie-filosoof stel album vol nostalgiese ballades en stuitige ‘songs’ bekend in Pretoria
Vintage Valiant-klanke is wat aanhangers van Valiant Swart en Illimar Neitz tydens die bekendstelling van Swart se 18de album in die Atterbury-teater op 4 Julie gehoor het.
Wat sal Afrikaanse musiek sonder bekfluitjie-filosoof Valiant Swart wees?
Veel armer aan deernisvolle ballades en ’n blik vol patos op buitestanders van die samelewing.
Dit is juis waaroor die temaliedjie gaan op sy nuutvrygestelde album, Rondry, Fliek en Die Buitelewe.
Swart het tydens die bekendstelling van die album by Atterbury-teater in Pretoria op 4 Julie die verhaal agter die terugkyk-liedjie vertel.
In sy kleintyd het hulle Desembervakansies op Beaufort-Wes in die Karoo gaan kuier.
Hier het hy hom verkyk aan destydse fotoverhaalboekies soos Kyk.
Wat hom deur die jare bygebly het, was die By die Opsitkers-kolom na die fotoverhale.
“Toeka se Tinder,” noem hy die kolomme.

Hier het meisies van die platteland gewoonlik vertel waarin hulle belangstel met die oog op ’n verhouding.
“Bykans altyd was die laaste drie belangstellings rondry, flieks en die buitelewe. Die alleenheid hierin opgesluit vang my.”
Dit is Swart se 18e album, en sy eerste in agt jaar sowel as sy eerste by platemaatskappy, Vonk Musiek.
Hy het die verhoog gedeel met Illimar Neitz. Dié blues-rocker se akoestiese kitaar en sy sterk verhoogteenwoordigheid, het vir veel vermaak gesorg.
Veral wanneer dit by liedjies vol verlange kom, verstaan die musikale duo hoe om die snare saam te laat sing.
Swart het tien nuwe liedjies vir die album geskryf. Hierdie liedjies is met ou gunstelinge tydens die bekendstelling afgewissel.
Hy was nostalgies oor Pretoria en het vertel van die laaste keer wat hy die Atterbury-teater se verhoog met Mel Botes gedeel het.

Sy gedagtes het ook teruggegaan na die storie agter sy nuwe ritmiese rockliedjie, “Brandtrap-Vastrap”.
Swart het vertel van sy ervaring in die Weermag in die laat tagtigerjare in ’n kantoor in die Departement Taaldienste naby Kerkstraat.
Hy het gereeld in aftydjies saam met kollegas op die brandtrap in die gebou met verversings gaan ontspan.
Die ervaring bly hom al jare by en het tot twee “Brandtrap-liedjies op die album gelei.
Hy het ook tydens die vertoning met homself gespot, veral oor die dra van ’n bril.
Hy het die swartraambril telkens opgesit om liedjies se lirieke uit sy saamgeflanste liedjieboek te lees.
“Ek moet egter kort-kort die bril afhaal as ek te opgewonde raak en dit wasem op.”
Swart het niks van sy ewig-jonk sjarme en voorkoms verloor nie. Hy is steeds die rocker in die kort leerbaadjie.
Hy sing steeds met ’n vonkeling in die oog. Die vonkel wys in een van sy snaakser nuwe liedjies soos “Die Wyntannies”.
“Dis darem nie als net snot en trane op die album nie. Tannies is nie meer wat hulle was nie. Hulle was altyd statig en sedig. Nou is hulle stuitig en orig.”
Hy het verwys na sy stryd om Covid-19 se nagevolge te oorkom. Een hiervan is dat hy nie meer al die ou liedjies se lirieke kan onthou nie.
“Om te onthou, raak bietjie van ’n mission met tye.”
Indien die gehoor se reaksie ’n maatstaf is oor vertolking van ou gunstelinge soos “Sonvanger”, het hy nie ’n akkoord verkeerd gespeel nie.
Swart se kenmerkende bekfluitjie-klanke is onmisbaar deel van vele van die nuwe liedjies.
Die patos in liedjies soos “Rondloperhond”, “Swerwersvuur” en “Donkerpad” met mense se lewens, spreek duidelik uit sy bekfluitjieblues-klanke.
Hy het vermaaklik vertel vanwaar sommige van sy nuwe liedjies vandaan kom.
Jeffreysbaai is sy liedjiefabriek. Onlangs tydens ’n verblyf in ’n gastehuis se kelderkamer, het hy juis gedink aan sy eie wynkelder tuis in Stellenbosch.
Hy noem dié heiligdom De Oude Rowerspelonk. Op die nuwe album is ’n vermaaklike liedjie oor soortgelyke spelonke.
In ’n stadium vertel hy juis oor waar hy dink liedjies vandaan kom.
“’n Liedjie het nie gewig nie. Jy kan nie daaraan vat nie. Eintlik is elke liedjie maar net ’n droom.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
