Sakekamer bied gratis hulp aan stadsraad
“Ek glo ons staan op die drempel van ’n nuwe era, inderwaarheid ’n Rubicon-oomblik, waar die sakesektor eienaarskap kan en moet neem om ’n rol te speel om verandering op sovele gebiede teweeg te bring.”
Pretorianers sit nie stil en wag vir ander om hul stad se toekoms te verseker nie.
Verskeie groepe soos AfriForum en die Moot-projek werk onverpoosd om kwessies soos infrastruktuur, onderhoud en ontwikkeling aan te spreek.
“Om ons kinders ’n stad na te laat waarop hul kan trots wees.”
Die Moot, wat bekend staan as Pretoria se juweel, het reeds gemeenskapsgroepe wat hul eie omgewing ophef met skoonmaak-aksies en verfraaing van die omgewing. Brûe word met hedendaagse kuns verfraai en die groepe maak seker om nadat hulle ’n area opgeknap het, dit in stand te hou.

Daar is dan ook ’n groter plan wat reeds ontwikkel is. Een van die belangrike kwessies wat in die plan aangespreek word, is batebestuur.
Die “Cities Infrastructure Delivery and Management Systems”-dokument, word binnekort deur die Pretoria Sakekamer aan die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink, ter tafel gelê vir bespreking.
Die dokument van 268-bladsye, wat toekomsplanne en ’n gereedskapsplan vir metro’s daarstel, is deur die “Cities Support Programme” van Nasionale Tesourie in samewerking met i @ Consulting in 2018 saamgestel.
Die oogmerk daarvan is om doeltreffende batebestuur deur stede en standaarde vir die daarstelling van infrastruktuur moontlik te maak.
Fergus Ferguson, voorsitter van die Pretoria Sakekamer, sê ’n datum hiervoor moet nog gefinaliseer word.
“Indien die politieke wil daar is om die plan in werking te stel, kan ons as sakesektor en gemeenskap moed skep,” meen Ferguson.
Hy glo die plan sal kundigheid, bronne en vaardighede aan die stadsraad beskikbaar stel om uitdagings rondom dienslewering en gemeenskapsverval die hoof te bied.
“Ons het ook gesprekke met die burgemeester gehad oor die moontlikheid om ’n ooreenkoms te sluit oor moontlike deelname van die lede van die Sakekamer aan die uitvoering van voorstelle om infrastruktuur op te knap en te verbeter. Ons wil die voordeel van ons kennis gratis aan die stadsraad bied.”
Hy sê die burgemeester is “versigtig optimisties’ oor die Sakekamer se planne en voorstelle sonder om hom enigsins daaraan te verbind.
Ferguson verwys ook na samewerking van die Sakekamer met verskeie ambassades in Tshwane om van hul suksesvolle internasionale programme rondom munisipale bestuur en dienslewering in werking te stel.
“Van die instansies is gewillig om met infrastruktuur-uitdagings te help. Ons wil graag die proses aanhelp om die belangstellende partye bymekaar te bring.”
’n Tydlyn vir die oorweging rondom moontlike samewerking is nog nie vasgestel nie.
Ferguson verwag dat die stadsraad moontlik binne die volgende paar weke op voorstelle sal reageer.
“Ek glo ons staan op die drempel van ’n nuwe era, inderwaarheid ’n Rubicon-oomblik, waar die sakesektor eienaarskap kan en moet neem om ’n rol te speel om verandering op sovele gebiede teweeg te bring.”
Hy beklemtoon die proses en enige toekomstige betrokkenheid van die Pretoria Sakekamer kan net in ’n klimaat van deursigtigheid plaasvind.
“Dis deel van ons waardes. Ons wil elemente van omkopery en bedrog aan die kaak stel. Ons bepleit ’n stadsregering en ’n sakegemeenskap sonder korrupsie.”
Hy glo gemeenskappe moet ook gemobiliseer word om in terme van dienslewering, soos met parke en verbetering van voorkoms, om hul kant te bring. Hiermee kan die Moot se inwoners reeds spog.
Hy het dan ook na die Moot verwys waar die gemeenskap reeds met die Moot-projek ’n verskil gemaak het deur onder meer self sypaadjies en parke te onderhou.
Hy beskou die politieke situasie as die enkele grootste struikelblok om uitvoering aan hul waardes en geïntegreerde planne te gee.
“Maar ons kan nie langer daaragter skuil nie. In lande soos Singapoer en Maleisië het die politieke en ekonomiese gety gedraai en in Suid-Afrika kan dit ook. As sakelui bring ons ’n boodskap van hoop en nie paniek nie.”
Carltonbeker: Drie honde baklei oor twee bene
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
