Skole aanvaar uitdaging vir Glimlagdag … en kry reuseverrassing
Gemeenskappe van regoor Pretoria het hande gevat om Loslitdag vir die leerders by die Pretoria School For Cerebral Palsied Learners ’n ware glimlagdag te maak.
Gemeenskappe van regoor Pretoria het hande gevat om Loslitdag vir die leerders by die Pretoria School For Cerebral Palsied Learners ’n ware glimlagdag te maak.
Die skoolhoof Rianza Anderson het die dag ook met ’n giggelgeel glimlaghoed gevier.
Vir haar was dit nie net bloot Loslitdag nie, maar ook die viering van haar eerste jaar as skoolhoof by die skool.
Die skool het meer as 380 leerders met spesiale behoeftes waarvan 85 in ’n koshuis op die terrein in Dr. Savagestraat gehuisves word.
“Ons het die tema ‘Deel-’n-glimlag!’ gekies omdat ons baie het om te deel en bewusmaking wou skep van hoe ons leerders elke dag moet aanpas,” sê Anderson.
Drie ander skole is uitgedaag om die dag se program van dans, ’n modeparade en sport by te woon.
Vir die sportlui van die drie skole het daar egter ’n verrassing gewag.
Laerskool Hennopspark, Hoërskool Zwartkop en Hoër Tegniese Skool Tuine se eerste krieketspanne het volledig toegerus met sportsakke en -toerusting gekom om teen die eerste en tweede spanne van Pretoria School For Cerebral Palsied Learners te speel.
Of so het die spelers en hul afrigters gedink.Tot hul verbasing is sokkerballe uitgehaal en doelpale reggeskuif.
Anderson sê die doelbewuste verrassing was voorafbeplan.
“Sodat die leerders van hierdie skole kon bewus raak van hoeveel aanpassings leerders wat anders bevoeg is, daagliks moet maak,” verduidelik Anderson.
Die idee was die breinkind van Lindy Lake-Roode wat by die skool se administrasie betrokke is.
Die krieketafrigter van Laerskool Hennopspark, Juan Parsons, het saam met sy span vir die seuns by die skool toiletbenodighede bymekaar gemaak en as donasie saamgebring.
“Die seuns het op eie inisiatief die items bymekaar gemaak. Ons het ook graag die uitdaging aanvaar sodat ons kan leer hoe bevoorreg ons is.”
Hoërskool Zwartkop se krieketorganiseerder, Johan Beukman, sê om so ’n dag te gedenk is deel van hul skool se “Maak ’n verskil”-motto.
Sy span het opgedaag met keurige en smaaklike kolwyntjies wat deur die Highlands SPAR geskenk is.
Die organiseerder van die dag, Cathy Botha, het met haar verwelkoming op die glimlagtema voortgebou en onderstreep dat ’n glimlag altyd in styl is.
’n Video oor die leerders by die Pretoria School For Cerebral Palsied Learners se tipiese skooldag, A Road to Victory, is aan die besoekers gewys om bewusmaking te doen.
Die ware glimlagpret het in die skoolsaal begin toe die rolstoeldansers van die skool gewys het hoe talentvol hulle is en op die maat van drie liedjies met hul rolstoele laat wiel het.
Drie beoordelaars het die modeparade beoordeel waaraan bykans 30 van die leerders op die sportveld deelgeneem het soos wafferse modelle en dansers. Oabilwe Mathabatha is as wenner aangewys.
Die besoekende skole het ’n ereboog voor die sokkerwedstryd vir die spelers van die eerste span van die Pretoria School For Cerebral Palsied Learners gevorm.
Die tuisskool het al drie skole uitgestof deur al drie wedstryde te wen.
Hul eerste span het op hul aangepaste kleiner veld die eerste doel teen die besoekende skool, Hoërskool Zwartkop, aangeteken.

Vir die anders bevoegde spelers was die wedstryde ’n hoogtepunt aangesien hulle lank daarvoor geoefen het.
’n Span studente van die Isa Carstens Akademie het ook onder leiding van lektor Inge Ferreira ingespring en die gesigte van leerders kom opvrolik met gesigverf.

“Vir ons is ons waardevolste geskenk wat ons kan gee ons tyd en ons vaardighede. Ons was ook hier vandag om van die leerders en onderwysers te leer,” sê Ferreira.
ALSO READ: Primary school learners in Mamelodi warned about drug abuse
Do you have more information about the story?
Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.
For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East
For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram
