Local newsNews

Haweloosheid styg in Moot

Moot-inwoners en kleinbesigheidseienaars wil die haweloosheidsprobleem in die Moot takel, maar weet nie hoe nie.

Inwoners en besigheidseienaars in die Moot weet nie meer watter kant toe nie as dit kom by die stygende haweloosheidsyfers.

“Wat gaan aan in die wêreld dat soveel mense in so ’n klein area so swaar kan trek aan die lewe?” vra Stienie Kleinkrans, Moregloed-inwoner.

“Ons as mensdom doen duidelik iets verkeerd as ons medemense so openlik swaarkry.”

Vir die afgelope jaar is die groeiende syfers van haweloses in die Moot ’n ongemaklike kwessie.

Die Moot is egter glad nie alleen in dié opsig nie, maar vir die inwoners is dit ’n ernstige krisis wat mense laat wonder oor die oorsaak.

“Dit is vir my ’n raaisel hoe so groot probleem nie meer ernstig opgeneem kan word nie,” sê Frits de Haan van Waverley.

“Dit is goed en wel dat die mense weggehou word van die straathoeke en parkies af, maar dit gaan geensins die oorsaak van die probleem aanspreek nie.”

Rekord het met Juanita du Plooy, voorsitter van Artikel 79 se staande komitee rakende reëls en etiek, gaan praat om meer uit te vind.

“Haweloosheid is ’n baie groot probleem, omdat mense van die platteland af stad toe kom, in die hoop om werk te kry, terwyl werrkloosheid reeds ’n groot probleem is,” sê Du Plooy.

Sy sê die metro self het nie naastenby genoeg skuilings nie en dat dié wat wel daar is, oorvol is.

“Met die laaste opname wat ek kan onthou, is daar beweer dat daar tussen 7 000 en 8 000 mense snags langs strate, op winkelstoepe, onder brûe en in parke slaap. Ek kan net raai dat daardie syfer teen die tyd baie groter is,” sê sy.

Die eerste sensus van hawelose persone in Tshwane is deur professor Stephan de Beer in Oktober laasjaar gedoen.

Die Eenheid vir Straat Haweloosheid by die Universiteit van Pretoria het een aand al die haweloses in sewe streke van Tshwane gaan tel.

Die totale hoveelheid haweloses was 4 177, waarvan 3 408 ondervra is oor die rede vir hulle situasie.

Volgens De Beer was 41% werkloos en 23% het gesê hulle is alkohol- en dwelmverslaafdes. Slegs 33 mense het die Covid-19-pandemie as rede gegee.

Dit is egter ’n tweestryd vir inwoners wat hulle wil help.

“Mens sien hulle langs die straat slaap en bedel, en kan nie help om te wonder watter omstandighede hulle daar laat beland het nie. Ons is almal gou om die vinger na drank en dwelms te wys, maar dit kan nie die rede wees vir elke liewe geval nie,” sê Christa Strauss, ’n Villieria-inwoner.

Daar word egter uitdruklik deur sekuriteitsmaatskappye gevra om nie vir die persone geld of kos te gee nie, omdat dit die probleem vererger.

Moot-inwoners, veral kleinbesigheidseienaars is erg gefrustreerd.

“Ek is seker dat meeste opgevoede mense grootgeword het met die beleid dat mens altyd mense in nood moet help, maar hierdie probleem is egter glad nie so eenvoudig nie,” sê Pieter Meijer, ’n winkeleienaar in Hertzogstraat, Rietfontein.

“Jaag mens hulle weg, dan word dit net iemand anders se probleem. Help mens hulle met kos of geld, dan bly hulle net daar, of meer daag op. Dit het niks met diskriminasie te doen nie, maar vele mense wat nie bad of stort, of toilette het nie, veroorsaak natuurlik vele probleme vir my en my mede-besigheidseienaars.”

Mayville-inwoner Elsie Venter som dit mooi op: “Ons soek ’n langtermyn oplossing wat die oorsaak van die probleem sal takel. Al wat ons op die oomblik kry is raad oor hoe om hulle te hanteer of te ignoreer.”

20 green container shacks destroyed in Bremer Street informal settlement fire

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button