Senior burgers deel van Disney-prinses opvoering
Toe 'n groep senior burgers 'n uitnodiging kry om as 'n dansgroep deel te wees van 'n spoggerige vertoning oor Raponsie, het hulle die geleentheid aangegryp om te wys hoe fiks en rats hulle die rolle kan vertolk.
Die senior burgers van die Pikkewyne Trimgim groep in Pretoria-Noord het ’n uitnodiging aanvaar om tydens ’n musiekblyspel op te tree wat by die Little Theatre by Unisa aangebied word.
Die uitdaging om deel te wees van die teatergroep, The Meeks, se vertoning van Tangled is onder leiding van Vivien Lotz, leier van die groep sedert 2014, aangepak.
Tangled vertel die verhaal van Raponsie wat in ’n toring opgesluit is en graag die wêreld daarbuite wil verken.
As ’n Disney-film was die verhaal wêreldwyd ’n treffer by die loket.
“Die groep is opgewonde hieroor en gaan gedurende drie vertonings die dansery op ’n tipiese dorpsplein vertolk,” verduidelik Lotz.
’n Lid van die Pikkewyne Trimgim, Susan van der Spuy, sê dis ’n unieke geleentheid vir die groep om te wys waartoe senior burgers in staat is.
Die Pikkewyne kom elke Maandag en Woensdag bymekaar by die Afrikaanse Protestantse Kerk Hestiapark.
Die groep van sowat 100 lede doen lae-impak oefeninge en lyndanse op die maat van musiek. Ouderdomme wissel tussen 55 en 90 jaar.
Hulle oefen nie net nie, maar bly betrokke in hul gemeenskappe.
“Daar is soveel verskillende maniere om uit te reik en vriendskappe te bou,” sê Van der Spuy.
Die Pikkewyne het onlangs ’n berg kruideniersware aan ’n huis vir bejaardes, Huis Judy, geskenk.

Van der Spuy verduidelik die groep is gesteld op hul fiksheid.
“Ons wil bewys dat die lewe nie ophou na aftrede nie,” vertel sy met ’n vonkel in die oog.
Vir Van Der Spuy is die groep se bymekaarkomtye verkwikkend en inspirerend.
“Vandat ek in 2011 ingestap het, het ek gevoel dis waar ek hoort. Voordat jy vra vir hulp, word dit al aangebied.”
Sy hanteer deesdae die musiek en rig die groep vir konserte af soos tydens die blyspel.
“Hierdie groepie oefen hulle harte uit en dis wonderlik om te sien wat hulle vermag,” sluit sy af.
Moot-leerlinge ding mee om as die volgende miljoenêr gekroon te word
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
