LifestyleLocal newsNews

Metro beplan vennootskappe met privaat sektor om bates te bedryf

Sakelui en die stadsraad moet vennote vir die “sakepoort tot Afrika” wees.

Die burgemeester van Tshwane, Cilliers Brink het tydens die gala-dinee van die Capital City Business Chamber die nuwe era van vennootskappe tussen die stadsraad en sakelui bevestig.

“Tye vir die Tshwane metro was nog nooit so moeilik nie, maar inwoners en sakelui was ook nog nooit so gewillig om nuwe dinge saam te doen nie,” het Brink aan die meer as 200 lede van die Sakekamer beklemtoon.

Hy het na die onlangse energieberaad en die openbare deelnemingsproses rondom vennootskapsbestuur van die Rooiwal- en Pretoia-Wes kragstasies verwys.

“Ons het dalk nie die kapitaal om Tshwane nou vorentoe te neem nie, maar ons het die bates en dis hier waar die krag van vennootskappe inkom.”

Wonderboom-lughawe sal volgende jaar ook op dieselfde manier as die kragstasies vir ’n vennootskapooreenkoms aan die bod kom by wyse van ’n openbare deelnemingsproses, het hy aangekondig.

“Die lughawe is ’n las met sy verliese jaar op jaar. Ons wil die lughawe in 2024 na die ope mark neem om te kyk wie kan die beste van die geleentheid maak,” sê Brink.

Burgemeester Cilliers Brink en sy eggenoot, Mariska.

Die vennootskapstema sluit aan by die Capital City Business Chamber se sakevisie om Tshwane ’n sakepoort na die res van Afrika te maak.

“So ’n stap sal die logistieke-ekonomie in Tshwane ’n hupstootjie gee,” benadruk Brink.

Hy voel egter ook dat ’n vennootkapsingesteldheid nie opsigself al redding is nie.

“Indien die besighede van Tshwane wil aanhou werkskepping doen, het ons versnelde ekonomiese groei nodig. Ons wil ’n bemagtigende klimaat vir sakemanne hiervoor skep,” sê Brink.

Kobus en Adrie Mienie van Pretoria-Noord saam met Karabo Ubane.

Hy het sakelui wat bydra tot die stad se sosiale welvaart, soos Coca Cola, uitgesonder.

“Coca Cola-maatskappy het ’n boorgat gesink by ’n informale nedersetting naby aan hul fabriek om watergesondheid vir inwoners te bevorder. Hierdie onuitgesproke sosiale vennootskappe om ons inwoners se welvaart te bevorder, is ook belangrik,” benadruk Brink.

Hy glo om produktiewe sakeluit te hê moet die stadsraad waarde vir besighede en inwoners vir hul belastinggeld kan gee.

“As stadsraad het ons ook ’n ontwikkelingsrol om te speel,” voer Brink aan.

Fanie du Plessis, Mej SA Natasha Joubert en Christia du Plessis.

Deel hiervan is om te sorg daar is volhoubaarheid vir krag en water.

“Ons kan nie elektrisiteit langer as ’n kontantkoei sien nie en moet ons befondsingsmodel verander. Ons sal ten minste 1 000MW krag minder by Eskom moet aankoop en self in ons stelsel moet kry,” meen Brink.

Bemagtiging was ook die tema van Mej SA Natasha Joubert se bydrae tot die gala-dinee.

Mej. SA het na Brink die sakelui toegespreek oor ’n beursskema.

Joubert wil hiermee toesien dat studente sonder toegang tot fondse wel hulself kan kwalifiseer.

Sy het aangedaan ’n prentjie geskets van die hopeloosheid wat haar oorval het die dag toe haar ma aangekondig het dat hulle nie fondse het vir haar om voltyds mode-ontwerp te studeer nie.

“Dit help jou niks. Jy het drome, maar geen geld om dit te verwesenlik nie,” sê sy.

Capital City Business Chamber hoof uitvoerende beampte Fanie du Plessis en Capital City Business Chamber se uitvoerende direkteur Chrys Haitas.

Joubert se pa is oorlede toe sy 16 jaar oud was.

“Ek weet hoe dit voel om finansieel uitgesluit te voel en gun dit vir geen jongmens nie. As ek een nalatenskap van my jaar as Mej SA wil hê, is dat ’n paar jongmense ’n meer regverdige kans in die lewe gekry het as gevolg van die beursskema,” sê Joubert.

Sy het verduidelik hoe die insameling van sulke geldbeloftes haar fokus was na die jaar (2021) toe sy tweede in die Mej SA-kompetisie gekom het.

“In my tussen-in jaar het ek na al my borge gegaan en geldbeloftes gekry vir die beursskema. Dis hoe ek die 2023 Mej SA-kroon gewen het. Deur ander te wil ondersteun en daarvoor te werk, kon ek myself bemagtig,” beklemtoon Joubert.

’n Beroep is deur die skoonheidskoningin op sakelui teenwoordig gemaak om geldbeloftes te maak vir haar beursskema.

Die lede het nie teleurgestel nie en Joubert se fonds is gou met geldbeloftes van meer as ’n half miljoen rand gesterk.

Kobus en Adrie Mienie van Pretoria-Noord saam met Karabo Ubane.
Happy Madube en Eunice Mufamadi van Pretoria-Noord. Foto: Elize Parker
Marinda Marais en Claud Wallis van Centurion. Foto: Elize Parker

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?

Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button