Local newsNews

Botaniese Tuine wy nuwe buitelug oefenpark in

Die Pretoria Nasionale Botaniese Tuine hoop hul nuwe buitelug oefenpark sal nuwe lewensvreugde en balans vir besoekers bring.

Op julle merke, gereed… Gym!

Meer as 50 personeellede van die Pretoria Nasionale Botaniese Tuine het op 9 November dadelik aan die oefen gespring by die nuwe ovaalring vol apparate, die Groen Gym.

Die Groen Gym is ’n nuwe opelug oefenpark en is naby die ingang geleë.

Met die skare oefengeesdriftiges hard aan die sweet, is die toerusting feestelik ingewy met Alpheus Mothapo en sy span instrukteurs aan die stuur van sake.

Die fikse Mothapo het die oefensessie bekwaam gelei en oefengieriges touwys gemaak oor die verskillende gymapparate.

“Ek is bly ons kan nou hier in die oopte en in die buitelug sommer so voor werk kom oefen,” sê Mothapo.

Onder Mothapo en andere se aanmoediging en luide toejuiging het groot en klein die toerusting, soos ’n nie-meganiese trapmasjien en gewigoptelmasjien, ingespan om fiks te word.

Twee werknemers van die Pretoria Nasionale Botaniese Tuine, Thavhana Gudani en Alpheus Mothapo het ‘n proeflopie op een van die apparate in die nuwe Groen Gym gehad voordat Mothapo ‘n paar demonstrasies gegee het.

Refilwe Malatji, die bestuurder van Pretoria Nasionale Botaniese Tuine sê die Groen Gym is ’n droom wat verwesenlik is.

“Ons het vir maande navorsing gedoen om die regte atmosfeer te skep en aan ons visie gestalte te gee oor hoe ons besoekers kan help om in harmonie met die natuur hul fiksheidsdoelwitte te bereik,” vertel Malatji.

Malatji benadruk die oefenpark is nie ’n nabootsing van ander soortgelyke parke nie, maar ’n unieke samestelling rondom sekere konsepte.

“Ons wou iets vir gebruikers bring met die herstellende krag van die natuur gekoppel met die verfrissende elemente van oefening,” wys sy uit.

Volgens Nontsikelelo Mpulo, direkteur van bemarkingskommunikasie, wil die Tuine ook ’n sin vir gemeenskap met die oefenpark bevorder.

“Ons wil nie hê die Groen Gym moet net ’n plek vir fiksheidsbewustes wees nie. Die area moet ook ’n bymekaarkomplek wees waar besoekers en gebruikers van die toerusting in ’n besoedelingvrye omgewing, saam kan geniet,” benadruk sy.

Die gebruik van die Groen Gym is in die toegangsprys van R60 vir volwassenes en R20 vir skoliere ingesluit. Geen kontantbetalings word geneem nie.

Die Groen Gym is oop vir alle besoekers.

Die toegangstye tot die Tuine is Maandae tot Sondae van 08:00 tot 18:00 met geen toegang na 17:00. Die Tuine is in Cussoniastraat in Brummeria geleë.

Christopher Willis, hoofdirekteur van die Nasionale Botaniese Tuine en Eliot Mashile, hoofbestuurder van die SA Nasionale Biodiversiteitsinstituut, het die lintknipseremonie by die Groen Gym by die Pretoria Nasionale Botaniese Tuine waargeneem. Foto: Elize Parker
‘n Waterfontein is by die apparate beskikbaar vir diegene wat dors raak van oefening by die Groen Gym. Nontsikulelo Mpulo was eerste om daarvan gebruik te maak. Foto: Elize Parker

ALSO READ: Local learner wins scholarship to pursue acting in New York

Do you have more information about the story?

Please send us an email to editorial@rekord.co.za or phone us on 083 625 4114.

For free breaking and community news, visit Rekord’s websites: Rekord East

For more news and interesting articles, like Rekord on Facebook, follow us on Twitter or Instagram

Christopher Willis en Neo Maimela. Foto: Elize Parker

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button