Local newsNews

Polisieforum gereed om Kersoptog ‘n fees te maak

Wonderboompoort se Kersprojek is gereed om met meer as 6 000 opgemaakte Kerspakkies vir die sesde keer in die pad te val om kinders en bejaardes se harte te verbly.

’n Kersprojek wat sedert 2017 reeds harte in Wonderboompoort gelukkig maak, het vanjaar in sy sesde jaar nog momentum gekry.

En die glimlaggies van die ontvangers van Kersbederfpakkies op die roete raak al hoe breër.

Die projek het ontstaan toe ’n bekende figuur in die omgewing, Oom Pat van die legendariese Mader se Slaghuis, geld aan die GPF geskenk het om kerslekkers te koop om uit te deel.

GPF-voorsitter Albert Michau.

Vanjaar sal die voorsitter van die forum, Albert Michau, weer die slee bestuur met Kersvader wat agterop staan.

Die Kerskonvooi gelei deur die vrolik versierde slee, word gevolg deur flitsende liggies-trokke en winkeltrollies vol pakkies.

“Dis so lekker as die kinders skree ‘Hello Kersvader!’” verduidelik Michau.

Die Kerskonvooi sal die strate van Wonderboompoort sektor 1 en sektor 2 vrolik inneem vir drie ure elke aand op 11 en 12 Desember vanjaar.

Michau sien uit na die aand en nooi inwoners om die twee aande te dagboek om deel van die gemeenskapsinisiatief te wees.

Vir Michau is die aande nie net deel van die diens van die GPF aan die gemeenskap nie, maar ’n ware fees.

“Ek voel self soos ’n kind wanneer al daardie ligte en sirenes verby kom,” sê hy.

“Mense kom van ver om op kampstoele uit te span op hul grasperke om die optog te sien en deel van die opgewondenheid te word. Selfs uit ander buurte kom kuier families by Wonderboompoort-gesinne om deel van die opgewondenheid te wees. Die strate staan al van vroeg af vol mense. Almal is opgewonde om pakkies te ontvang,” lag hy.

Verskeie spanne het die laaste twee weke van November bymekaar gekom om die meer as 6 000 uitdeelpakkies te pak.

“Na vyf jaar is daar al amper so ’n verwagting oor die aand en ons wil nie mense teleurstel nie,” benadruk Michau.

Groot vrolike versierde trokke maak gewoonlik deel uit van die Kerskonvooi van die Wonderboompoort-kersprojek.
In 2017 is daar met 1 500 pakkies begin, maar die behoefte het mettertyd toegeneem.

Daar word ook vanjaar pakkies gepak met Mashigo en bederfies vir bejaardes in die omgewing.

“Die bejaardes raak dikwels aangedaan as ons ook by die ouetehuise aangaan. Talle het nie meer familielede nie en niemand kom kuier meer vir Kersfees nie,” vertel Michau.

Fondse vir die al hoe groter wordende projek is vanjaar met ’n mandjiedans, potjiekoskompetisie en Slip-’n-Slide-dag ingesamel.

Verskeie borge tree ook elke jaar toe tot die projek om terug te gee aan die gemeenskap.

Die projek opsigself het ook hande gevat vanjaar met die Christmas Community Projek van die groter Pretoria.

Michau verduidelik dat 11 Desember se feestelikhede vir sektor 2 so om 18:30 sal afskop by die Mayville Hyperama.

Die volgende dag se aktiwiteite vir sektor 1 begin op die hoek van Solomon- en Francinastraat.

– Kliek hier om verlede jaar se feestelikhede te sien:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button